Raadgewers oor geldsake sê lidmaatskap van ’n saamryklub kan jou baie geld bespaar. Die hoër prys van nuwe voertuie en brandstof, asook duur e-tolfooie, maak aansluiting by ’n saamryklub sinvol. Jy kan ook self ’n saamryklub stig. Hier is ’n kykie na die voordele van saamryklubs en wat jy alles in gedagte moet hou.

Voordele van saamryklubs:

Brandstofvoordele: Om ’n tenk van 49 L vol te maak kos byvoorbeeld meer as R550. As jy 60 km werk toe moet ry, sal jy sowat 1 260 km per maand reis. As jy 500 km ver op ’n tenk kan ry, het jy minstens 2,5 tenks brandstof per maand nodig; dit kom neer op R1 375 brandstof. As drie passasiers saamry, betaal jy waarskynlik net ’n kwart van die brandstofkoste; dis net R344.

Hierdie reëling werk die beste as die mense in jou saamryklub naby jou woon sodat jy nie ekstra kilometers moet ry nie.

Omgewingsvoordele: Lidmaatskap van ’n saamryklub beteken minder motors op die pad. Dit verminder lugbesoedeling, verkeersopeenhopings en die verbruik van nieherwinbare energiebronne.

Besparing op motoronderhoud: Minder ry beteken minder slytasie aan jou motor en bande en minder motoronderhoud.

Minder stres: As lid van ’n saamryklub het jy minder probleme met spitstydverkeer. Jy maak ook vriende met die mense saam met wie jy ry sodat jou ritte werk toe ontspanne en gesellig is.

Let op na:

  • Die afstand tussen al die lede se woon- en werkplek. Hoe verder jy reis, hoe duurder kan dit wees.
  • Die verantwoordelikheidsin van die mense in die saamryklub. Jy wil nie lede hê wat dikwels nie werk toe gaan nie, of nie hul deel betaal nie.
  • Kom vooraf ooreen op die bedrag wat betaalbaar is. Besluit of julle beurte sal maak om te bestuur en of daar net een bestuurder sal wees.
  • Vind uit of jou versekering ’n saamryreëling dek. As ander mense gereeld jou voertuig bestuur, moet hulle as bestuurder by jou versekering gevoeg word.
  • Maak seker al die bestuurders in die klub het ’n geldige rybewys. Sommige versekeraars dring aan op ’n professionele permit vir bestuurders en padwaardigheidsertifikaat as jy ’n minibus gebruik (soos genoem in die Nasionale Padverkeerswet). Voertuie moet padwaardig en betroubaar wees.

Regsoorwegings

Saamryklubs word beheer deur die Nasionale Wet op Landvervoer. Hou dié punte in gedagte:

  • Vind uit by jou versekeraar watter verantwoordelikheid en verpligting jy as ’n bestuurder in ’n saamryklub het.

In die geval van ’n ongeluk waarin jy beseer is weens iemand anders se nalatige bestuur, kan jy nie die nalatige bestuurder dagvaar vir persoonlike beserings nie. Jy sal die Padongelukkefonds moet betrek, aangesien jy die nalatige bestuurder in ’n Suid-Afrikaanse hof net vir emosionele skok kan dagvaar.