Vir ’n maandelikse premie dek versekeringsmaatskappye jou motor, huis, huisinhoud, fiets of ander items. In ruil kry jy gemoedsrus dat jy veilig sal wees sou enigiets fout gaan.

Rudolf Britz, die hoofaktuaris by Momentum Korttermynversekering, sê korttermynversekering sal jou op die lange duur geld spaar. “Daardie klein maandelikse premie is die moeite werd as jy dit vergelyk met wat dit jou sal kos om jou bates heeltemal te vervang.”

As jou motor byvoorbeeld R100 000 werd is, sal jou premie sowat R400 per maand wees.  As jy nie jou motor verseker nie en dit word gesteel, sal jy iewers R100 000 moet uitkrap. Hou ook in gedagte jy moet rente op dié bedrag betaal as jy dit by die bank sou leen.

Hoe kan jy met korttermynversekering geld bespaar?

  • Maak seker jou versekering dek die bate vir sy regte waarde. Moet byvoorbeeld nie jou motor vir R150 000 verseker as dit net R120 000 werd is nie.
  • Jy het gewoonlik die keuse om jou bybetaling (die bedrag wat jy moet inbetaal sou jy eis) te verhoog, wat jou maandelikse premie verlaag.
  • Kyk of jy vir ekstras betaal, soos ’n gehuurde motor as jou motor gesteel word. Deur dié ekstras uit te skakel, sal jou premie laer wees.
  • Vra of jou werk jou skootrekenaar verseker sodat jy nie dubbel versekering betaal nie.
  • Oorweeg dit om nie items te verseker wat bloot sentimentele waarde het nie.
  • Maak ’n lysie kritiese bates – bates waarsonder jou lewe ontwrig sal wees, byvoorbeeld jou motor of jou skootrekenaar. As jy net dié items verseker, sal jou maandelikse premie heelwat laer wees.
  • Vra rond tot jy op die beste ooreenkoms afgekom het. Hou tog in gedagte die goedkoopste aanbod is dikwels nie die beste idee nie. “As jou premie aanvanklik laag is, kan dit wees dat dit ná ’n vaste tyd drasties verhoog,” waarsku Rudolf.
  • Kyk gerus wanneer jy navorsing doen na die aantal klagtes wat daar oor die maatskappy is. Gebruik ’n webtuiste soos Hellopeter.com om dit te monitor. Kyk ook na die aantal klagtes wat in komplimente verander.