Kaartbedrog bly ’n reuseprobleem in Suid-Afrika en hoewel die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) aangekondig het daar was verlede jaar ’n afname in kaartbedrog, is ’n allemintige R252,2 miljoen steeds gesteel.

Selfs met verhoogde skyfie- en PIN-sekuriteit, gebruik misdadigers steeds kaartvasklemming en -ruiling by OTM’s terwyl hulle jou PIN oor jou skouer afloer.

Wat kredietkaarte betref, het bedrog wanneer ’n kaart nie teenwoordig is nie, met 12,6 persent verhoog en is dit verantwoordelik vir 75 persent van verliese verwant aan kredietkaarte wat in Suid-Afrika uitgereik is.

Elmarie Twilley van Virseker sê: “Een van die hoofredes waarom kaartbedrog voortduur is omdat verbruikers nie waaksaam genoeg is nie en ander te maklik vertrou. Videomateriaal wat van OTM-sekuriteitskameras verkry is, toon misdadigers is dikwels goed geklede mense wat lyk asof hulle bloot met alledaagse take besig is.

Lees ook: Wat jy moet weet vóór jy kredietkaartskuld aangaan

Die sleutel tot enige bedrieër se sukses is illusie, waar die slagoffer geen onraad vermoed nie en glo die misdadiger is niemand anders nie as ’n gawe vreemdeling wat opreg probeer help.”

In Suid-Afrika word kaartaflesingstoestelle en mikrokameras gereeld deur kaartmisdadigers gebruik.

Hierdie OTM- en punt-van-verkope (PVV)-aflesingstoestelle word op die kaartgleuf geïnstalleer en berg die kaart se data met behulp van ’n klein verwerker en geheuekaart.

Mikrokameras omtrent so groot soos ’n pen se punt word in die panele bokant die kontantgleuf gemonteer en neem beeldmateriaal van die toetsbord.

Die kaart se data en PIN word dan gebruik om ’n hergekodeerde, ten volle funksionele, vervalste kaart te maak.

’n Ander modus operandi wat gebruik word, is dié van kaartruiling. ’n Misdadiger gee voor hy sukkel met ’n masjien en laat die slagoffer toe om sy kaart te probeer.

Lees ook: Spaar so geld

Die misdadiger bied aan om die slagoffer te help en ruil, sonder dat die slagoffer dit agterkom, hul kaart om met ’n vals kaart van soortgelyke voorkoms – terwyl hy seker maak hy hou ’n ogie op die toetsbord om die slagoffer se PIN te kry.

Die volgende wenke word voorgestel om te vermy dat jy ’n slagoffer van kaartbedrog word:

  • Hou ten alle tye ’n ogie op jou kaart.
  • Moet nooit vir iemand sê wat jou PIN is nie.
  • Moenie jou kaart en jou PIN bymekaar bêre nie.
  • Vermy swak verligte OTM’s.
  • Sleutel net jou PIN in wanneer die masjien dit versoek.
  • Maak seker niemand hou jou dop terwyl jy jou PIN insleutel nie.
  • Staan naby aan die OTM en maak seker omstanders kan nie jou hand sien terwyl jy die PIN insleutel nie.
  • Maak seker jy hou jou hand oor die kaartgleuf om te verseker niemand neem jou kaart nie.
  • Verlaat die OTM dadelik indien jy onveilig voel.
  • Moet nooit hulp aanvaar nie – nie eens van ’n sekuriteitswag nie.
  • Moenie toelaat dat iemand jou aandag aftrek terwyl jy ’n transaksie by ’n OTM doen nie.
  • Maak seker die kaart wat jy gebruik is jou eie, voor en nadat jy ’n transaksie afgehandel het.
  • Moet nooit jou geld by ’n OTM tel nie.
  • Kanselleer jou kaart onmiddellik as dit verlore, gesteel of beskadig is of deur ’n masjien teruggehou word. Moenie toelaat dat iemand anders die oproep namens jou maak nie.
  • As een of twee OTM’s in ’n bepaalde gebied nie werk nie, is dit beter om nie na die naaste OTM in dieselfde gebied te gaan nie. Kitsbanke word gereeld gesaboteer om slagoffers na ’n bepaalde OTM te lei.
  • Indien ’n OTM of PVV-toestel beskadig lyk, die skerm niks vertoon nie of dit lyk asof daaraan gepeuter is, moet jy dit nie gebruik nie.
  • Verlaag jou daaglikse onttrekkingslimiet om te vermy dat misdadigers al jou geld steel indien hulle wel hul kloue op jou kaart kry.

“Die belangrikste reël is om op ’n hoë gereedheidsgrondslag te wees terwyl jy ’n OTM of PVV-toestel gebruik. Indien jy enigiets verdag opmerk of ongemaklik voel, vertrou jou instink en beweeg van die masjien af weg,” sluit Twilley af.