Januarie is vir die meeste mense die langste maand van die jaar.

Die vakansie is verby, die bonus is uitgegee en omdat baie mense hul Januarie-salaris al vroeg of middel Desember gekry het, is die meeste daarvan al op.

Ulrich Joubert, ’n onafhanklike ekonoom, sê dit is juis die feit dat mense hul Januarie-salaris so vroeg kry, wat maak dat Januarie vir baie mense ses weke lank is, pleks van die gewone vier weke tussen salarisstrokies. Ongelukkig maak die vakansiegees dat mense nie behoorlik vir Januarie beplan nie.

Januarie het gewoonlik meer uitgawes omdat die skole en universiteite begin wat jou óf ekstra registrasiegeld óf ekstra skryfbehoeftes en boeke uit die sak jaag.

“As jy nie beplan nie, kan jy dit nie oorleef nie,” sê Ulrich.

Huisgenoot het gaan wenke kry oor hoe om dié maand te oorleef.

Ulrich se wenke:

• In Januarie moet jy jou geldsake fyn beplan.

• ’n Begroting is uiters belangrik.

• Jy moet binne jou vermoëns leef. Gewone luukshede, soos uiteet, moet vir eers uitgestel word.

• As jy ekstra geld vir die maand moet leen, kies baie versigtig dat jy nie ’n kredietfasiliteit kry wat hemelhoë rente hef nie.

• Probeer nienoodsaaklike uitgawes uitstel. Dit kan byvoorbeeld ’n klererekening wees. Onthou net, dit is uitgawes wat weer op jou pad gaan kom. Dit moet net gedoen word sodat jy die ergste geldnood in Januarie kan oorleef.

Die komediant Marc Lottering se wenke:

• Hang uit by plekke met gratis Wi-Fi. YouTube kan jou jare lank besig hou.

• Aanvaar elke ete-uitnodiging, of jy nou van die gasheer hou of nie. Gratis kos is gratis kos.

• Hou jou kredietkaart heeltemal buite bereik, veral wanneer jy na ’n kroeg gaan. Slegs kontant, net sodat jy nie onder ’n wanindruk verkeer ná shooters nie.

• Raak weer verlief op SAUK-TV. Dit is net vir ’n paar dae.

• Bly by die huis en lees weer jou ou Huisgenote en YOU's.

- Hilda Fourie