Jy kan altyd edel probeer wees en vir jou kinders sê Kersfees gaan oor liefde, nie oor presente nie, maar jy gaan nie baie gewild wees nie! Jy kan wel aan hulle verduidelik dat jul beursie vanjaar legerig is en dat almal moet help om dit vir mekaar lekker te maak. So kan hulle van kleins af leer dat geld nie aan bome groei nie, dat mamma en pappa se beursie nie bodemloos is nie en dat daar ’n ding soos ’n begroting is. Help mekaar so hierdie Kersgety.

  • Maak dit ’n hele avontuur om vir mekaar geskenke te maak. ’n Kind wat tuis is in die kombuis kan byvoorbeeld gehelp word om koekies te bak en in mooi sakkies of boksies te verpak. Neem dit ’n stap verder en laat hulle ’n paar ekstra sakkies maak en by die ouetehuis gaan aflewer. Laat hulle self geskenkpapier maak met aartappeldrukwerk of koerantpapier wat in reënboogkleure geverf word.

  • Spaar geld deur ’n vakansie by die huis deur te bring en uitstappies te maak wat julle niks kos nie. Maak ’n hele avontuur deur saam met die kinders te stap na die park naaste aan julle en daar onder ’n boom piekniek te hou.

  • Hou die koerant dop vir gratis aktiwiteite in winkelsentrums.

  •  Maak soveel moontlik tuisgemaakte eet- en drinkgoed as jy met vakansie is en tyd het. (Dis alles aktiwiteite waaraan jou kinders kan deelneem en wat julle kosbare tyd saam gee.) Vries aanmaakkoeldrank of sap in houertjies vir iets koels wat hulle met ’n teelepel kan eet. Selfgemaakte hamburgers is veel smaakliker en goedkoper as gekooptes en so ook aartappelwiggies in die oond gebak pleks van olierige tjips. As jy spaghetti bolognaise maak, rek een klein pakkie maalvleis deur ’n blikkie gebakte bone en ’n blikkie tamaties by te voeg.

  • Maak of julle by jul gunsteling-braairestaurant gaan eet deur spyskaarte te maak en een van die kinders kelner te laat speel terwyl jy burgers maak in die kombuis. Maak yskoue melkskommels van roomys opgeklits met fyngekapte vrugte.

Deur Elna van der Merwe – leefstylherskrywer & Huisgenoot-boekeredakteur