Die meeste vroue sukkel finansieel ná ’n egskeiding. Waarom? Omdat so baie van ons die huwelik binnegaan in die geloof dat ons ’n feëverhaal gaan beleef. Ons man sal vir altyd vir ons lief wees, ’n goeie pa vir ons kinders wees, ons nooit verkul nie, nooit dwelms gebruik, ’n dronklap word of ons op enige wyse mishandel nie. Ons vertrou dat ons reg sal optree, selfs met ons geldsake. Die skokkendste besef is altyd dat ons ridder op die wit perd toe eintlik ’n dwaas op ’n donkie was.

Die slegte ding wat ’n mens die heel eerste van egskeiding opval, is dat ’n huishouding met twee inkomstes skielik ’n een of geen inkomste het. Ma’s sit opgeskeep met die verantwoordelikheid om kinders groot te maak en uit te kom met net hul eie inkomste – en te hoop en bid hul eks het die ordentlikheid om ’n aanvaarbare bedrag onderhoud vir hul kinders en/of hulself te betaal.

Skuld dra by tot die spanning van lewenskoste wat gedurig styg. Die vrou het dalk tydens die huwelik hierdie skuld gemaak. Of dalk het die man, indien hulle binne gemeenskap van goedere getroud was. Dalk het sy dit ná die egskeiding gemaak. Hoe dit ook al sy, jou skuld moet gedelg word.

Wat ek nou gaan sê, is vir almal wat in hul lieflike glashuise in sonnige voorstede woon, en dinge sê soos: “Waarom neem hierdie enkelma’s lenings uit, as hulle weet hulle sal sukkel om dit terug te betaal?”

Laat my toe om dinge vir julle in konteks te plaas (terwyl ek my moet bedwing sodat ek nie skree nie!). Dis gegrond op ’n growwe veralgemening van werkende enkelma’s. Hulle werk hard. Miskien het hulle meer as een werk. Hulle moet die huur betaal, die krag, die skoolgeld, vervoer, nasorg, doktersrekeninge, kos en al die ander noodsaaklikhede om elke dag te oorleef. Om uitgeput te wees is nie meer ’n gevoel nie, dis ’n lewenswyse. Enkelma’s is dikwels liggaamlik, emosioneel en verstandelik uitgeput. Wanneer hul enkele salaris en min of geen onderhoud – van daardie dwaas op die donkie – nie tot die volgende betaaldag hou nie . . . is om ’n lening uit te neem miskien al manier om te oorleef. Nie al manier om luukshede te bekostig nie – al manier om te oorleef.

Daar is ’n groot toename in onversekerde lenings van finansiële instellings en mikroleners. Bekostigbaarheid word nie bereken nie. Mense betaal tot 60% rente op ’n lening en baie betaal meer as 80% van hul salarisse aan persoonlike skuld.

Ek voel te min word gedoen om die weerlose, sukkelende verbruikers van Suid-Afrika te beskerm. Ons het baie strenger maatreëls nodig. Leningsmaatreëls moet gemonitor en behoorlik toegepas word. Dis makliker om te probeer om die wyse waarop lenings toegeken word te verander as om die finansiële omstandighede van die menigte te verander.

Maar wat kan jy doen wanneer jy jou in dié situasie bevind? Laat gaan eerstens die gevoelens van skuld en skaamte wat met skuld gepaardgaan. Daar is sowat 10 miljoen verbruikers met ’n swak kredietrekord. Om  Michael Jackson aan te haal: You are nor alone!

En dis dit.In my volgende blog kyk ons na ’n paar praktiese oplossings om jou skuldkrisis op te los.  Laat vir eers net gaan. En dit geld vir alle ma’s, nie net enkelma’s nie. Praat met jou familie en vriende oor jou swak geldelike situasie, as jy een het. Moenie opkrop nie. Baie van die mense wat jy gedink het nie jou situasie sal verstaan nie, bevind hulle bes moontlik in dieselfde posisie.

Gee jouself krediet dat jy jou kinders grootmaak (en miskien jou man ook) in hierdie moeilike ekonomiese tye. Gelukkig is daar oplossings vir swak finansiële situasies. Dis dikwels nie die einde van die wêreld nie. Jy moet jouself net bemagtig met die kennis van wat die moontlikhede is.

Die lig aan die einde van die tonnel is dalk ’n aankomende trein. Tog kan dit ook die ligstraal van jou nuwe geldelike begin wees.

Wees sterk. Bly dankbaar. Moet nooi jou eiewaarde vergeet nie. Tot ons weer gesels.

- Moeshfieka Botha

Moeshfieka Botha is ten nouste betrokke by die skuld- en verbruikersbeskermingsbedryf. Sy is die kommunikasiebestuurder van die landwye skuldberadingsmaatskappy Credit Matters. Gesels met haar by www.creditmatters.co.za of op Credit Matters se Facebook-blad.