Vir baie mense wat moedeloos is oor hul geldsake, is daar net een uitweg: ontkenning. Maar as jy bankstate reguit asblik toe pos sonder om hulle eens te lees en onbetaalde rekeninge in ’n onderste laai druk, raak jy net nog dieper in die moeilikheid. Die ordening en vereenvoudiging van jou finansies kan jou op die lang duur baie tyd en geld spaar. Jy sal ook ’n veel beter idee hê van jou posisie en hoe om dit te beredder.

STAP EEN

Versamel alle papierwerk wat in die huis rondlê. Diep alle rekeninge, polisse en dokumente op en orden dit in lêers. Sorg dat jy gesertifiseerde afskrifte het van belangrike dokumente soos paspoorte en geboortesertifikate, en dat dit op ’n veilige plek, soos in ’n persoonlike kluis, gebêre word. Maak seker jou familielede weet waar die dokumente is, veral jou testament. Vir belastingdoeleindes moet jy sekere state en dokumentasie – soos bewyse van jou bydraes vir aftree-annuïteite, die IT3(b)- sertifikate wat deur banke en ander instellings uitgereik word as bewys van rente of dividend wat jy verdien het, en dokumentasie om eise vir mediese uitgawes of reistoelaes te ondersteun – vyf jaar lank hou.

Hou ook ’n aparte lêer vir waarborge en betalingsbewyse vir aankope. Maar moenie verbete aan elke stuk papier in jou besit vasklou nie; ’n oormaat dokumentasie dra by tot wanorde. Hou wel deeglik rekord van alle onbetaalde en afgehandelde rekenings. Baie Suid-Afrikaners sit uiteindelik met swak kredietrekords omdat hulle veral doktersrekeninge ignoreer.

STAP TWEE

Maak ’n lys van al jou bates. Maak seker dat jy ondersteunende dokumentasie daarvan het. As jy byvoorbeeld jare gelede van werk verander het en jou pensioen oorgedra is na ’n annuïteit, maak seker dat jy bewyse het daarvan. Dieselfde geld vir ou bankrekeninge wat jy nooit gesluit het nie, Sanlam- en Ou Mutual-demutualiseringsaandele en polisse wat jy oor die jare uitgeneem het.

STAP DRIE

Debietorders kan jou dwing om te spaar en help om strafheffings vir laat betalings te vermy. Outomatiseer afbetalings vir jou verband, versekering, vaste maandelikse uitgawes en beleggings soos ’n maandelikse inbetaling in ’n effektetrust of spaarrekening sover moontlik. ‘‘Jy moet minstens 15 persent van jou inkomste spaar nadat belasting en jou maandelikse pensioen- of voorsorgfondsbydrae afgetrek is’’, sê Phillip Hattingh van Dynamic Wealth. As jou skuld druk, kan dié geld aanvanklik gebruik word om dit te delg.

STAP VIER

Skakel oor na die internet. Nie net spaar jy op seëls en tjekkoste deur rekeninge aanlyn te betaal nie, maar dit is makliker om rekord te hou van betalings. Doen ook jou belasting aanlyn deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se eFiling-stelsel. Dit is verniet, al jou belastingberekenings vir jou oplaag word outomaties aanlyn gedoen, terugbetalings gebeur vinniger, jy kan kies om SMS- of e-pos-aanmanings te ontvang en die afgelope jaar het eFiling-gebruikers ook langer tyd gehad om hul vorms in te dien. Registreer by www.sarsefiling.co.za.

STAP VYF

Sluit oortollige rekeninge. Elke bankrekening dra sy eie bankkoste en met kredietkaarte kan jy meer as R100 aan jaarkoste betaal. En al kos dit jou niks om ongebruikte winkelrekeninge oop te hou nie, verhoog dit die versoeking om te koop en beteken dit meer gemorspos in jou posbus. Daarby dwing die nasionale kredietwetgewing banke en ander finansiële instellings om al die krediet tot jou beskikking in ag te neem om te besluit of jy ’n lening kan bekostig, selfs al gebruik jy dit nie. Minder winkelrekeninge kan dus byvoorbeeld jou aansoek vir ’n verband help.

STAP SES

Met al jou finansiële inligting en state tot jou beskikking kan jy nou ’n finansiële plan en ’n begroting vir die toekoms opstel. ‘‘As jou inkomste minder is as jou uitgawes plus dít wat jy moet spaar, begin deur vermybare uitgawes te identifiseer,’’ sê Phillip. Dit is onder meer luukshede soos uiteet, fliek en vakansies. Kyk daarna na uitgawes wat ingekort kan word, soos selfoonkoste, petrol (deur jou ritte beter te beplan) en huur (deur na ’n kleiner plek te trek).

Helena Wasserman