Verkoop onnodige goeters en maak dit goedkoper om terug skool toe te gaan

Namate die Feestyd einde se kant toe staan, slaak baie van ons ’n sug van verligting. Ons is daar deur, en betreklik skuldvry . . . maar is dit voortydig? Ons geldsake lyk al klaar ’n bietjie oes en nou word baie van ons getref deur die volgende geldelike uitdaging: skooluitgawes.

Dié uitgawes kan meer as R1 000 per kind beloop – ja, jou oë het jou nie bedrieg nie! Baie ouers besef nie hoe hoog skoolkoste kan wees nie. Dis skryfbehoeftes, handboeke, skoolklere . . . en dan nog die daaglikse reiskoste, middagetes, sportuitrustings en die verpligte haarsnysessie nog voor die skool begin het.

Lees ook: Stimuleer jou kleuter sonder om die bank leeg te maak

Maar wees gerus, want jy kan maklik ’n gedeelte van of al die onwelkome onkoste bestry deur slegs party van die vorige jaar se skoolgoeters en ander artikels wat net rondlê en nie langer gebruik word nie, op te ruim.

Hier is ’n paar goed wat sommer gou net stof vergader:

Speelgoed en sporttoerusting

Kinders raak moeg vir vanjaar se speelding of speletjie; hoekom verkoop jy dit nie aan iemand wat dit graag wil hê nie? Jou jong kind het moontlik sy/haar Leapfrog-tablet ontgroei.

En as die appel van jou oog ’n bietjie ouer is en op pad is laer- of hoërskool toe, is die kans goed dat sport sy/haar lewe gaan oorneem. Saam met elke groeifase kom die nodigheid om sporttoerusting te vervang, maar wat nou van die ou toerusting wat miskien net ’n seisoen of twee gebruik is?

Boeke

Dis wonderlik as jou kinders ywerige lesers is, maar dit kan ’n duur stokperdjie raak as jy elke keer nuwe boeke moet koop. Boonop kan nuwe en selfs tweedehandse boeke ’n groot gat in jou beursie laat wanneer jou kind se volgende stel handboeke gekoop moet word.

Gelukkig is daar aanlyn bestemmings waar jy hierdie items kan verkoop of selfs koop. Los die voetslaan vir jou vingers en gaan loer gerus in by Gumtree.

Buiten handboeke vir alle ouderdomme, van die laer- en hoërskool tot op tersiêre vlak is dit ook ’n ideale plek om van al daardie stofopgaarders ontslae te raak.

Lees ook: Ouma van 97 slaag eindelik matriek

Selfone

Hierdie oorweging is moontlik ietwat uit sy plek wanneer ons praat van teruggaan skool toe, maar baie van ons rus deesdae ons kinders met ’n selfoon toe. Of jy nou jou kind se selfoon opgradeer of jou eie, die vorige model is hoogs gesog as ’n tweedehandse opsie vir iemand anders.

Oral in jou huis is daar ’n goudmyn van ou artikels wat jy en jou kinders nie meer nodig het nie en wat die drastiese uitgawes van teruggaan skool toe heeltemal kan uitwis.

Skakel die warboel uit en begin 2016 met ’n skoon blaadjie en ’n paar ekstra rand in jou sak. KLIEK HIER vir 'n paar verkoopwenke.