Baie mense meen al manier waarop hulle dit kan bekostig om oorsee te reis, is om te raai hoe die rand gaan verhandel teen ander geldeenhede en dan hul vliegkaartjie en valuta op net die regte tyd te koop.

Dis nooit ’n wyse besluit om die beweging van die rand te probeer voorspel nie. Beleggers skerts graag: “Die beste manier om ’n miljoen rand met wisselkoersspekulasie te verdien, is om met R10 miljoen te begin.” Dit is geen wonder dat wisselkoersspekulasie alom beskou word as die mees riskante belegging op die kapitaalmarkte nie.

As alternatief, oorweeg die volgende stappe wanneer jy vir jou oorsese reis beplan:

Die eerste stap is om te bereken of jy die reis in vandag se geldterme en met jou huidige inkomste en spaargeld kan bekostig. Indien nie, besluit hoe jy ekstra geld kan verdien of spaar om dit moontlik te maak.

Sodra jy jou somme gemaak het en besluit het om die reis te onderneem, betaal dadelik vir jou vlug en reiskoste. So verbind jy jou tot jou reisplanne, maar jy maak ook die betaling in die mees sekere omstandighede.

Te dikwels wil ’n mens net nog ’n rukkie wag voor jy die geld betaal, net om onkant betrap te word deur ’n politieke gebeurtenis of onverwagte wisselkoersverandering.

Deur so gou moontlik vir jou reis te betaal, kan jy ook die beste pryse beding. Dikwels bied lugrederye en hotelle afslag vir betalings wat lank voor die tyd gemaak word en hierdie afslag is baie meer seker as enige moontlike besparing op die wisselkoers tussen die rand en die geldeenheid van jou bestemming.

As jy jou reis ver in die toekoms beplan en jy kan nog nie vir jou verblyf of vlugte betaal nie, moet jy die noodgedwonge styging in koste in berekening bring.

As rowwe riglyn kan jy 7 persent per jaar byvoeg vir die verswakking van die rand. Voeg hierby die inflasiekoers van jou bestemming. As die bestemming se inflasiekoers 4 persent is en jy oor ’n jaar wil reis, sal jy dus 11 persent (7 persent randverswakking + 4 persent inflasiestyging) by jou begroting voeg.

Van reiskoste gepraat: Oorweeg alternatiewe lughawens by jou bestemming of onregstreekse vlugroetes. ’n Vlug na Gatwick in London behoort goedkoper te wees as een wat op Heathrow land en as jy boonop via Dubai of ’n Afrikaland vlieg, met ’n paar uur se wagtyd op ’n lughawe, dan gaan jy beslis minder betaal as vir ’n direkte vlug.

Wanneer jy jou verblyf beplan, oorweeg gerus ook alternatiewe, soos ’n jeughostel of Airbnb-kamer. Naas die kostebesparing, is hierdie soort verblyf dikwels interessanter as ’n nag in ’n kliniese hotelkamer.

Die laaste brokkie raad is om nie elke transaksie wat jy oorsee maak om te skakel na randwaarde nie. Stel ’n begroting in die plaaslike geldeenheid op en hou daarby, maar moenie heeltyd dink hoeveel dit in Suid-Afrika sou gekos het nie. As jy die behoefte het om elke uitgawe om te skakel, herinner jou aan hoe hard jy aan hierdie reis beplan het en geniet dit!

Wouter Fourie