Mediese uitgawes is een van die grootste uitgawes wat mense mee rekening moet hou, veral ouer mense wat chroniese medikasie neem. Dit is ook nie ongewoon om te hoor van mense wie se mediese spaargeld halfpad deur die jaar uitgeput raak nie. Oorweeg dit om jou apteker te vra om jou hierdie uitgawes te help bestuur, pleks dat jy iets drasties doen soos om sekere medikasie te staak.

Die is die Clicks-apteker Waheed Abdurahman se raad. “Jou apteker kan in die winkel jou jou mediese fonds se voordele help bestuur,” sê hy. “Dit sluit in dat jy gebruik maak van gratis voorkomende gesondheidsevaluerngs, wat uit risiko betaal word, pleks dat jy besoeke na ’n dokter of spesialis uit jou mediese spaargeld betaal. Gereelde mediese ondersoeke is ook die eerste stap om gesondheidsprobleme vroeg op te tel, dan kan dit behandel word voor dit ’n gevorderde stadium bereik.”

So kan jy jou mediese spaargeld langer laat hou:

  • Mediese skemas vra ’n heffing of bybetalings wanneer kliënte buite die goedgekeurde of voorkeurdiensverskaffer-netwerk koop. Maak seker jou apteker is op die lys goedgekeurde diensverskaffers.
  • Kies ’n generiese alternatief. Mediese skemas is meer geneig om generiese medikasie ten volle te dek wat dieselfde aktiewe bestanddeel, sterkte en dosering as oorspronklike handelsmerk-medikasie gebruik.
  • Vind uit of jou chroniese medikasie op die goedgekeurde medikasielys is, wat jou mediese fonds teen ’n spesiaal onderhandelde prys bied.
  • Die meeste apteke hef nie administrasiegeld nie; soek rond vir so ’n apteek.
  • Maak gebruik van jou apteek se beloningstelsel. Party apteke het ’n puntestelsel waar jy koopbewyse verdien wat nuttig kan wees wanneer jy vir die volgende rondte medikasie moet betaal.
  • Hou noodsaaklike medikasie byderhand om simptome vinnig te behandel en gebruik die voordeel wat nie-voorskrifmedikasie dek.