Om ’n skootrekenaar te verloor is ’n groot ongerief. Dit bevat belangrike sakedokumente en persoonlike items, soos foto’s en ander dokumente. Maar volgens Airport Lost and Found, ’n gebruikersgedrewe databasis, het daar tussen Junie en Julie verlede jaar op sewe van die wêreld se grootste lughawens meer as 10 000 skootrekenaars, slimfone, tablette en ander persoonlike elektroniese toestelle verlore geraak.

John October, ’n woordvoerder vir die versekeraar Dial Direct, sê lughawens is een van die top-10 plekke waar skootrekenaars gesteel word. “Dit gebeur meestal by veiligheidsbeheerpunte, in badkamers en wanneer mense van die vliegtuig afklim en gedisoriënteer is ná die vlug. Diefstal en verlies gebeur meer dikwels wanneer jou aandag afgelei word, en wanneer jy gespanne en tussen baie mense is.”

En moenie aanvaar jou versekering gaan die verlies dek nie. John verduidelik duur toestelle soos skootrekenaars word nie outomaties onder huisinhoud gedek nie. “Jy moet jou versekeraar laat weet dat hulle waardevolle items by die draagbarebesittings- of alle-risiko-afdeling van jou polis moet insluit,” sê hy. Hy raai sterk aan dat jy dit doen voor jy reis.

Hier is ’n paar wenke van Dial Direct om jou skootrekenaar veilig te hou:

  • Jy gaan gevra word om by die beheerpunt die rekenaar uit sy sak te haal en deur die X-straalmasjien te stuur. Sit dit alleen in ’n houer. Kry dit terug sodra jy klaar deursoek is.
  • Moet nooit jou skootrekenaar of tablet in jou ruimbagasie sit nie; dit het ’n groter risiko om daar gesteel te word. Die kajuitdruk en lae temperature kan dit ook beskadig.
  • Moet nooit jou rekenaar onbewaak laat nie, veral nie in ’n oop ruimte nie.
  • Hou jou inligting veilig deur jou data voor die reis te rugsteun. Hou enige sensitiewe inligting op ’n CD, eksterne hardeskyf of geheuestokkie. Sit ’n wagwoord op die rekenaar as jy nie die inligting van die toestel kan afkry nie.
  • Maak seker jy het ’n sak wat spesifiek vir ’n skootrekenaar bedoel is; dit het die regte opstopsel en beskerming. Afsonderlike vakkies vir bykomstighede en kragdrade kan jou rekenaar beskerm teen krapmerke en duike.