In die lig van die onlangs veroordeelde Russiese swendelaar wat ’n piramideskema in Suid-Afrika van stapel gestuur het, wil die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (Sasi) die publiek inlig oor hierdie soort skemas.

Beleggingsfoefies: Wat is dit, en hoe ken ’n mens dit uit?

Deesdae kom daar ál meer bedrieglike beleggingsmaatskappye voor. Dit beleggingsmaatskappye, wat bekend is as piramide- of Ponzi-skemas, het al baie niksvermoedende beleggers uit duisende rande gekul en hulle duik steeds oral in Suid-Afrika op. Dit is belangrik dat ’n mens bedag moet wees op die gevaar.

Piramideskemas

Piramideskemas is onwettige swendelarye waar groot getalle mense aan die onderpunt van die piramide geld betaal aan ’n paar mense aan die bopunt.

Alle nuwe lede begin onder en vorder dan mettertyd na die bopunt. Jy kan enigiets van ’n paar rand tot duisende rande betaal om aan te sluit.

Piramideskemas word gewoonlik ontwerp om mense te bedrieg en die stigters verdwyn spoorloos sodra die skema inmekaartuimel. Hierdie stigters duik dan in ’n ander deel van die land op en bedrieg mense in daardie streek met dieselfde plan.

Ponzi-skemas

Dit werk hoofsaaklik op dieselfde manier as ’n piramideskema; daarom word die twee dikwels met mekaar verwar.

’n Ponzi-skema is ’n onwettige onderneming waar die ondernemer, ’n individu of ’n maatskappy, geld wat deur nuwe beleggers betaal is aan ander beleggers betaal, pleks van die geld uit winste wat deur beleggings verdien is.

Diegene wat die Ponzi-skema beheer, lok dikwels nuwe beleggers deur hoër opbrengste aan te bied as ander beleggings. Dis gewoonlik in die vorm van korttermynopbrengste wat óf abnormaal hoog óf ongewoon konsekwent is.

Ponzi-skemas dwing nie beleggers om nuwe beleggers te werf nie; hul uiters aanloklike opbrengste lok beleggers.

Ponzi-skemas begin soms as wettige besighede, tot die besigheid in gebreke bly om die verwagte opbrengste te lewer. As dit op bedrieglike voorwaardes voortgaan, verander die besigheid in ’n Ponzi-skema. Ongeag die aanvanklike situasie, volgehoue hoë opbrengste verg ’n steeds verhoogde invloei van geld om die skema te voed.

Ponzi-skemas begin diwels as wettige sakeondernemings so dit kan moelik wees om die bedrogspul uit te ken.

Omdat Ponzi-skemas dikwels wettig as sakeondernemings geregistreer is, hulle professionele, geakkrediteerde personeellede het en hulle ondersoeke deur die meeste beleggers slaag, kan dit moeilik wees om die bedrogspul uit te ken.

Voorbeeld van piramidewerkwyse:

Vir R1 000 begin jy aan die onderpunt van die piramide. R500 van jou geld gaan aan die mens reg bokant jou (die een wat jou gewerf het) en die ander R500 gaan aan die mens aan die bopunt van die piramide, die promotor.

Namate meer en meer mense hulle by die piramide aansluit, kry die bopunt van die piramide meer geld en die onderpunt verloor geld. Wanneer die mense aan die bopunt betaal is, word die volgende vlak die bopunt.

Elke keer dat ’n vlak na die bopunt styg, moet ’n nuwe vlak aan die onderpunt bygevoeg word, en elke vlak moet dubbeld so groot wees soos die vorige een. Wanneer die getal nuwe lede stadiger groei, stort die piramide ineen, en al die onderste vlakke verloor geld.

Hoe om piramideskemas te uit te ken:

  • Jy word aangespoor om gou aan te sluit voor jy die geleentheid misloop.
  • Jy word belowe jou “belegging” se waarde sal in ’n kort tydjie meer as verdubbel.
  • Hul duur, weelderige brosjures, voorleggings en webtuistes toon hoe maklik dit is om ryk te word.
  • Jy moet ’n groot som geld betaal voor jy enigiets terugkry.
  • Die stigters van die piramide spog met hul maklik verkreë geld. Hulle is ook gewoonlik bekende mense in die gemeenskap – en dit trek ander lede aan.

Vrae om aan enige beleggingsinstelling te stel:

  • Is jy by die Finansiële Diensteraad (FDR) geregistreer? Vra bewyse om dit te staaf.
  • Wat is jou kwalifikasies?
  • Hoe lank is jy al in die bedryf?
  • Moet ’n mens nuwe lede/beleggers werf om aan te sluit?
  • Sal jy my finansiële beplanner toelaat om jou beleggingsinstelling en sy werkwyse te bestudeer?

Moenie huiwer om die skuldiges aan te meld nie

Die meeste piramideskemastigters kom met die misdaad weg omdat die slagoffers dikwels te skaam is om hul verlies aan te meld.

Dikwels wanneer die skema in duie stort, is die oorspronklike stigters lankal met groot winste vort. Diegene wat altyd die middelste en onderste vlak gevorm het, gaan dan voort met die werk.

Deelnemers aan die skema verkies ook om stil te bly sodat hulle nie die wins verloor wat hulle wel gemaak het nie. Dit beteken dus dat wetstoepassers kan nie bewyse kry nie.

Meld jou verlies aan

Wanneer ’n piramide- of Ponzi-skema misluk, skaad dit die beeld en reputasie van alle goeie en eerlike beleggings in Suid-Afrika.

Meld enige verdagte skema aan sodat dit onmiddellik deur die FDR ondersoek kan word. Jy kan naamloos bly, maar steeds help om gevaarlike misdadigers agter tralies te kry.

Hoe so?

Ponzi-skemas word dikwels aangewend om ander misdade, soos geldwassery, onwettige dwelms, prostitusie en mensehandel, te befonds.

Kontakbesonderhede: Bel 0800-313-626 vir die bedrog-en-etiek-kitslyn of besoek die webtuiste www.fsb.co.za.