’n Blikkie Coke sal jou in volgende jaar ’n bietjie meer kos weens die instelling van ’n belasting op versoete drankies wat die minister van finansies, Pravin Gordhan, bekendgemaak het.

[caption id="attachment_118697" align="alignnone" width="600"]Laat al die syfers jou kop draai? Hier is wat jy moet weet van die begrotingsrede. Foto: Flickr/ seniorplanning.org Laat al die syfers jou kop draai? Hier is wat jy moet weet van die begrotingsrede. Foto: Flickr/ seniorplanning.org[/caption]

Die minister het gister sy begrotingsrede in die parlement gelewer en soos gewoonlik gaan sondebelasting ook op. Dit beteken die prys van alkoholiese drankies en tabakprodukte verhoog.

Lees ook: Eina! Rokers, drinkers trek swaar onder Jan Taks

Motoriste sal ook hul sak meer moet skud wanneer die brandstofheffings in April met 30c/L verhoog tot R2,85/L en R2,70/L.

Gordhan het in sy toespraak ook gefokus op die inperking van staatsuitgawes met R25 biljoen oor die tydperk van drie jaar, die verhoging van belastinginkomste en die toewysing van meer geld aan hoër onderwys na afloop van die Fees Must Fall-protesoptredes.

Die ekonoom Dawie Roodt is nie juis beïndruk met Gordhan se aankondiging van die voorgestelde bestedingsbesnoeiing in die openbare sektor nie. Dit sal nuwe riglyne behels, soos om die waarde te beperk van voertuie wat politieke ampsdraers mag aanskaf.

“Wel, die minister het ’n aankondiging gemaak dat hulle gaan besnoei op items soos reis . . . Dit gaan nie veel van ’n verskil maak nie, want dis nie waarheen die werklike groot geld gaan nie,” sê hy aan Huisgenoot. “Dit klink goed om dit te doen, maar dis ’n druppel aan die oseaan,” voeg hy by.

Hy sal ook wil sien dat semistaatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat nie ’n wins maak nie geprivatiseer word.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, is nie oortuig die minister se uitspraak dat die ekonomie beduidend genoeg sal groei om ’n afgradering te voorkom nie.

Lees ook: Hardewareprobleme pootjie Telkom-gebruikers wat lugtyd wil herlaai

“Graderingsagentskappe soos Fitch en Standard and Poor’s het almal gemaan Suid-Afrikaanse verbande kan tot rommelstatus verlaag word as die ekonomie nie beter bestuur word nie. As dit gebeur, sal dit tot ’n onvermydelike rentekoersverhoging lei. Dit kan ’n ernstige uitwerking hê op verbruikers wat diep in die skuld is,” sê Neil.

Hier is van die belangrikste punte in die begroting en hoe dit jou beursie gaan raak:

1. Inkomstebelasting

In 2017/18 en 2018/19 sal ’n bykomende R15 biljoen ingesamel word. Maar daar was nog geen besluit nie. Daar is bespiegeling dat die minister dalk tydens sy begrotingsoorsig ’n BTW-verhoging kan instel.

Daar is wel verligting vir lae- en middelklasinkomste-werknemers om te vergoed vir die inflasie, maar die kenners meen dit gaan nie ’n groot uitwerking hê nie weens die hoë prys van produkte. “Vir die meeste van ons gaan dit nie veel van ’n verskil maak nie. Gewoonlik sal dit ’n vermindering in inkomstebelasting wees, maar dis vir die baie lae inkomste belastings,” sê die ekonoom Dawie Roodt.

2. Mediese fondse

Daar is ’n toename in die maandelikse mediesebelastingkrediettoelae. Jy sal meer vir jou mediese doeleindes betaal; maar daar is ’n voordeel, want dit verlaag jou belastingaftrekkings, verduidelik Dawie.

3. Brandstof

’n Verhoging van 30c/L in die algemene brandstofheffing. Die algemene brandstofheffing sal met 30c/L verhoog word tot R2,85/L vir petrol en R2,70/L vir diesel met ingang van 6 April 2016. Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, sê: “Verbruikers met ’n swaar skuldlas gaan die verhoging in die brandstofprys die ergste voel”.

4. Sondebelasting

Verbruikers sal tussen 6 en 8 persent meer vir sterk drank, wyn, bier en sigarette moet opdok. Volgens Fin24 se sondebelastingberekenaar sal jou sondes jou in 2016/2017 R3,94 per week meer kos en ’n ekstra R204,88 per jaar (as jy ’n bottel sterk drank per week drink); R0,48 per week meer en R24,96 ekstra per jaar (as jy twee bottels wyn per week drink); R0,22 per week meer en R11,44 ekstra per jaar (as jy twee bottels of blikke bier per week drink); en R8,20 per week meer en ’n ekstra R426,40 per jaar (as jy 10 sigarette per week rook).

5. Ander belasting

Die instelling van ’n bandeheffing om die herwinnigsprogram te finansier wat in werking gestel sal word. “Wanneer jy weer jou bande vervang, sal jy ’n ekstra belasting daarop betaal,” sê Dawie. Volgens die finansiële joernalis Maya Fisher-French sal ’n bandebelasting van R2,30/kg op nuwe, gebruikte of versoolde bande betaal word.

Burgers sal ook ’n groter heffing vir plastieksakke moet betaal en ’n belasting op voertuigvrystellings. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sê die doel van die heffing op voertuigvrystellings is om die samestelling van die land se voertuigvloot te beïnvloed om energiedoeltreffender en omgewingsvriendeliker te word.

6. Onsigbare belasting

“Terwyl daar geen implisiete inkomstebelastingverhogings was nie, sal fiskale sleuring vanjaar R7,6 biljoen ekstra in die sakke van die ontvanger van inkomste plaas,” skryf Maya op haar blog. “Basies het enigiemand wat meer as R400 000 per jaar verdien baie min belastingaanpassing vir inflasie gehad. Al sal die huistoevatsalaris dus nie in nominale terme minder wees nie, sal jy minder kan koop as verlede jaar.”

7. Gaskoeldranke

Die minister stel van volgende jaar af ’n belasting op versoete drankies in. Die prys van gaskoeldranke sal verhoog, maar jou gesondheid sal die minister dankbaar wees. “Suikerbelasting sal in beginsel menslike gesondheid ondersteun. Dit sal lei tot ’n afname in suikergebruik, wat sal lei tot laer binnelandse suikerpryse wat ’n negatiewe uitwerking op die suiker bedryf sal hê,” het Absa se senior landbou-ekonoom, Ernst Janovsky, aan News24 gesê.

8. Eiendom

Mense wat eiendom van meer as R10 miljoen kan bekostig, sal meer oordagkoste moet betaal – dit verhoog van 11 persent tot 13 persent. Dit beteken die koper sal bykans R1 miljoen oordragkoste moet betaal vir ’n eiendom wat R10 miljoen kos. “Baie van wat ons vandag gehoor het, buiten die styging in die oordragkoste vir die R10 miljoen plus behuisingsektor en toename in kapitaalwinsbelasting (KWB), is positief,” het Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, aan News24 gesê.

9. Onverklaarde bates

Die tyd loop nou uit vir belastingbetalers wat nog onverklaarde bates oorsee het, het die minister gesê. Addisionele verligting sal gebied word vir ’n tydperk van ses maande vanaf Oktober vanjaar om nie-samewerkende belastingbetalers kans te gee om hul sake agtermekaar te kry.

10. Maatskaplike toelae

Die toelae vir bejaardes, gestremdes en sorgafhanklikes sal in April 2016 met R80 tot R1 500 styg en in Oktober met nog R10 tot R1 510. Die toelae vir kindersorg sal in April met R20 styg tot R350 en dié vir pleegsorg met R30 tot R890. “Arm huishoudings kan voordeel trek, maar net ’n bietjie,” sê Dawie.

11. Hoër onderwys

’n Inspuiting van R16,3 biljoen oor die volgende drie jaar is vir hoër onderwys toegewys. Altesaam R5,7 biljoen daarvan is vir die tekort weens die feit dat fooie vir die akademiese jaar 2016 op die vlakke van 2015 gehou is.

En R2,5 biljoen gaan na die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om uitstaande studenteskuld te delg tesame met nog R8 biljoen oor die mediumtermyn om huidige studente in staat te stel om hul studies te voltooi. Dawie meen al is daar ’n hoë aanvraag vir hoër opvoeding in Suid-Afrika sal dit meer arm studente in staat stel om universiteit toe te gaan.

Volgens die jongste statistiek wat die Nasionale Kredietreguleerder uitgereik het, is net minder as 50 persent van alle krediet-aktiewe verbruikers te diep in die skuld, want hulle is met minstens een van hul rekeninge drie maande of meer agterstallig, sê Neil.

Wat moet jy doen as jy in die skuld is? “Dis is noodsaaklik om ’n begroting op te stel (waarin jy jou inkomste, aftrekkings, uitgawes en maandelikse skuldpaaiemente in ag neem) en daarby te hou,” sê Neil.

“Sodra jy jou bevind in ’n situasie waar jou skuld oorweldigend is, soek so gou moontlik hulp deur ’n skuldberader te kontak. Jou skuldberader onderhandel jou skuldpaaiemente met jou kredietverskaffers en sorg dat jy van enige nuwe regsoptrede beskerm is.”

– Gabisile Ngcobo

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: E-sigaret ontplof soos vuurwerk in man se broeksak

Verkeerspolisie ry doelbewus rondloperhond dood sodat ‘dit nie ly nie’

Eina! Rokers, drinkers trek swaar onder Jan Taks

Hardewareprobleme pootjie Telkom-gebruikers wat lugtyd wil herlaai

‘Gee my die kind’ – vrou getuig dramaties hoe Zephany Nurse se grootmaakma ook haar kind wou ‘steel’