Die meeste mediese skemas het reeds hul voordele en bydraes vir 2016 bekendgemaak.

Terwyl jy besluit oor die vlak van jou dekking vir aanstaande jaar, kan jy gerus ’n tydjie inruim om te oorweeg hoe jy die beste baat kan vind uit die voordele wat aangebied word. As jy slim te werk gaan, kan jy jou mediese koste bestuur en die maksimum voordeel trek uit jou bydraes tot die skema.

Verstaan jou voordele Maak tyd om die inligting te lees wat die skema of jou raadgewer aan jou stuur. Gebruik die geleentheid as daar by die werk inligtingsessies is of as ’n konsultant julle besoek sodat jy jou voordele beter kan verstaan. Put die meeste uit jou dekking Na gelang van die mediese skema of soort dekking wat jy kies, is daar verskeie maniere waarop jy jou voordele ten beste kan benut. Hou hierdie punte in gedagte:

"Dit is die moeite werd om oorbruggingsdekking te ondersoek"

Hospitaaldekking

As jou skema ’n aangewesediensverskaffernetwerk (ADV) vir sekere hospitale saamgestel het, maak seker jy gebruik daardie hospitale sodat jou uitgawes minder is.

  • Wanneer jy goedkeuring vra vir ’n beplande prosedure, moet jy altyd by jou skema seker maak of daar enige bybetalings of sublimiete is as jy nie die ADV-riglyne volg nie.
  • Gesels voor ’n beplande prosedure met jou dokter. Maak seker wat hul tariewe is en wat jou mediese skema gaan dek. As daar ’n groot verskil is, moenie aarsel om te vra of jou dokter bereid is om die bedrag aan te pas nie, veral as jy dit kan bekostig om vooraf te betaal.
  • Onthou dat mediese skemas verplig is om die koste van 270 voorgeskrewe minimum voordele vir binnepasiënte ten volle te dek. Vir dié soort prosedures word jy gewoonlik nie opgesaal met enige tekorte nie.

Dekking vir binnepasiënttekorte

As jou skema bybetalings eis vir gedefinieerde prosedures of dit teen ’n vasgestelde tarief dek (en nie die tarief wat die dokter werklik eis nie), is dit die moeite werd om oorbruggingsdekking te ondersoek.

Dit is ’n afsonderlike versekeringspolis wat jy vir jou en jou gesin kan uitneem om die verskil te dek tussen die koers van die mediese skema en dit wat die verskaffer jou gevra het. Dit geld tot ’n gedefinieerde maksimum vlak.

Voordele vir chroniese siektes

  • Daar word van mediese skemas vereis om die medikasie en behandeling van 26 chroniese siektes te dek.
  • Feitlik alle opsies van alle mediese skemas pas ’n vasgestelde formule toe wat medikasie betref. Dit is ’n lys van al die medisynes wat die skema ten volle sal dek. As jy medisyne gebruik wat nie op die skema se formulelys is nie, kan jy verantwoordelik gehou word vir die verskil, dus moet jy gerus die formulemedisyne met jou dokter bespreek om uit te vind of dit geskik is vir jou.
  • Skemas kan ook spesifiseer dat jy jou medikasie by ADV-apteke koop. Die meeste skemas sal egter ’n koerier aanwys wat jou medisyne vir jou kan bring as jy nie by ’n verkose apteek kan uitkom nie.

Dag-tot-dag-voordele

Probeer jou eise binne gespesifiseerde sublimiete hou en vind uit of die dekking wat jy kies, enige dag-tot-dag-voordele het wat nie uit jou dag-tot-dag-sublimiete of spaarplanne betaal word nie (byvoorbeeld tand- en oogartse).

Addisioneel

  • Raadpleeg gekontrakteerde of netwerkdokters as jou skema van hulle gebruik maak. Besoeke aan ander dokters lei gewoonlik tot beperkte voordele of bybetalings.
  • Onthou: as jou huisdokter jou nie na ’n spesialis verwys het nie, kan jy verantwoordelik gehou word vir die koste.
  • Vind uit of jou skema ekstra besoeke aan jou huisdokter dek wanneer jou dag-tot-dag-voordele uitgeput is.
  • Gebruik generiese medikasie waar moontlik – kweek die gewoonte om jou dokter en apteker hieromtrent te vra.
  • Probeer om nie-noodsaaklike items (soos skedule 1- en 2-medisyne) uit jou sak te betaal sodat jou dag-tot-dag-voordele langer hou.

Ekstra voordele:

  • Maak seker jy weet watter ekstra voordele jou skema bied. Dit kan insluit:
  • Voordele vir voorkomende sorg, wat wissel van basiese siftings (metings vir bloeddruk, cholesterol, bloedsuiker en liggaamsmassa-indeks) tot mammogramme, Papsmere en prostaattoetsing. In sommige gevalle kan dit onder meer swangerskapsprogramme, tandartsondersoeke en griepinspuitings insluit.
  • Skemas se lojaliteitsprogramme kan kontantafslag- of geldterugbelonings insluit.

Jy kan jou voordele baie beter benut as jy jou skema beter verstaan. Gesels met jou finansiële raadgewer sodat jy die opsie kan kies wat die beste by jou behoeftes pas.

- John Cranke, nasionale bestuurder: werknemersvoordele, PSG