Natuurlik gaan ’n mens se werk nie altyd pret en plesier wees nie, maar jy behoort nie soggens met ’n swaar gevoel op te staan nie. Selfs as jy nie jou werk haat nie, is daar dalk ’n knaende gevoel dat jy verandering kort of jouself ’n bietjie uit jou gemaksone moet kry. In albei gevalle moet jy ’n nuwe loopbaan oorweeg – en dit kan vreesaanjaend wees.

Maar moenie toelaat dat jou gemaksone jou keer nie; raak proaktief.

Dis natuurlik dat jy ná ’n lang ruk by een werk ’n roetine volg. Jy weet presies wat jy moet doen en wanneer, en is vertroud met die mense en prosedures. Daarom kan die gedagte om by ’n nuwe werkplak in te val skrikwekkend wees. Maar moenie toelaat dat jou gemaksone jou keer nie; raak proaktief.

Eerstens moet jy navorsing doen. Dis baie maklik om jou te verbeel die vooruitsigte is vreesaanjaender as wat dit eintlik is, maar as jy dit eers aanpak, besef jy dis glad nie so sleg nie. Vind uit presies wat ’n loopbaanverandering in jou geval sal behels. Kort jy ’n kwalifikasie? Indien wel, kan jy deeltyds daaraan begin werk terwyl jy jou huidige werk doen?

Skryf ook al die voor- en nadele van jou nuwe gewenste loopbaan neer en besluit hoeveel jy die eise van die werk sal geniet.

Sodra jy ’n besluit geneem het, is dit tyd om op te tree. Moenie dink dit gaan ’n reuse taak wees nie; gee klein treetjies.

Praat met mense wat jy ken wat reeds die beroep beoefen om wenke en inligting bymekaar te maak. Hulle kan dalk ’n kursus aanbeveel wat hulle gevolg het of ’n mentor wat hulle touwys gemaak het.

Begin jou CV herskryf; jy gaan dit moet aanpas deur aan te dui hoe die vaardighede wat jy in jou ou werk aangeleer het, jou in jou nuwe loopbaan kan help. Win vriende en familie se mening in; ’n buitestander se perspektief kan soms baie nuttig wees.

Onthou: Mense begin en verlaat gedurig werke; daar is geen rede hoekom jy nie een van hulle kan wees nie. Voorspoed!

© Cover Media