As ’n baas wil hê sy werknemers moet beter presteer, bied hy of sy gewoonlik kontantbonusse aan, of as hy minder vrygewig voel, word die skroewe aangedraai.

Wetenskaplikes beweer nou dis alles moontlik vergeefs, aangesien navorsing daarop dui dat ons vermoë om te presteer reeds by geboorte bepaal word.

Nederlandse wetenskaplikes het breinskanderings op deelnemers uitgevoer terwyl hulle rekenaargebaseerde take uitgevoer het. Hoewel deelnemers harder gewerk het wanneer daar bonusse aangebied of druk toegepas is, was daar geen merkbare verbetering ten opsigte van hul algehele prestasie nie.

By take wat baie konsentrasie geverg het, het dit die duidelikste na vore gekom.

“As basiese biologie ons vermoë beperk om ten opsigte van sekere soorte werk te verbeter, moet ons meer verbeelding aan die dag lê oor hoe ons mense se werkverrigting meet en beloon,” het prof. Frank Hartmann, hoogleraar in bestuursrekeningkunde en bestuursbeheer aan die Rotterdamse Bestuurskool van die Erasmus-universiteit, verduidelik.

“Dis moontlik baie meer taakspesifiek as wat ons tans geneig is om te dink.”

Lees ook: Hier’s alles wat jy moet weet van ongeskiktheidsversekering

Die wetenskaplikes hoop ondernemings sal meer aandag skenk aan prestasiebeperkings en meer begrip toon wanneer werknemers werklik hard probeer, maar dit nie in hul werk waargeneem kan word nie.

“Organisasies behoort te sorg dat prestasiebepalings die pogings van die werkers akkuraat vaslê sodat hulle kan meet of doelwitte en aansporings doeltreffend is en om te verseker dat mense regverdig beloon word,” het Frank bygevoeg.

Dit beteken natuurlik nie jy het ’n vrypas om op te hou om jou bes by die werk te lewer of biologie die skuld te gee nie; inteendeel, as jy voel dat jy jou beste lewer in projekte en jou baas is nog nie tevrede nie, vra om hersiening van prestasie waar individuele doelwitte gestel kan word en julle saam aan ’n oplossing kan werk.

© Cover Media