SODRA ’n perfeksionis iets perfek regkry, glo hy hy verdien liefde en geluk. Dié soort denke word gou ’n hoofoorsaak van uitbranding.

Vat nou maar vir Piet die Perfeksionis. Piet se werk is heeltemal op peil. Tog dink hy dis nie goed genoeg nie en hy moet die ekstra myl (of 1 000 myl) aflê.

Hy voel hy kan dit doen en aanvaar meer verantwoordelikhede terwyl hy minder en minder om hulp vra. Piet is besig om vir die wêreld – en homself – te probeer bewys dat hy perfek is. Maar sodra sy blus uit is (daar is eenvoudig nie genoeg tyd om sy batterye te herlaai deur te eet, rus en speel nie) begin die balle uit sy hande glip. Dis dan dat perfeksionisme in ’n verleentheid verander.

Piet begin sy ergste nagmerrie glo: “Ek is nie goed genoeg/perfek nie.” Maar hy is taai, hy herstel van die terugslag en ewe koppig laat hy die siklus van voor af begin. Dié keer is hy vasberade om slimmer en doeltreffender te werk – maar weer eens probeer hy te veel vermag.

Piet jaag nog steeds die onhaalbare doel van volmaaktheid en onrealistiese verwagtinge na. Uiteindelik val al die balle op die grond (soos met almal in dié omstandighede gebeur) en Piet se beperkte geloof in homself word ’n selfvervullende profesie.

Die grootste ding wat ons daarvan weerhou om perfeksie te laat vaar is die vrees dat ons alledaags en selftevrede gaan word en die gehalte van ons werk gaan laat daal.

Maar is dit waar? Soos Piet agtergekom het, is dit perfeksie wat die gehalte van jou werk kelder, nie andersom nie.

Dis baie meer volhoubaar om jouself te versorg terwyl jy jou werk goed doen. So sal jy makliker jou peil handhaaf, minder koorsagtig werk en minder deur vrees gemotiveer word.

- Kerstin Waddell

Kerstin mug shot Kerstin Waddell is ’n Martha Beck-gesertifiseerde lewensafrigter van Kaapstad. Gaan gerus na haar webtuiste.