Dis ’n droewige dag op kantoor en die dokumente lê soos die skewe toring van Pisa op jou lessenaar. Dit is ’n stryd om al die werk klaar te kry en by die huis die kinders nog met hul huiswerk te help.

Jou baas kom staan by jou lessenaar. Ewe nonchalant, koffie in die hand. “Ag skattie, kan jy die maandeinde-verslag teen vanmiddag vir my klaar hê,” sê-vra hy.

Jy kan voel hoe die are in jou nek bult. Nie eens jou man noem jou skattie nie, dis immers 2016 en jy het mos ’n naam.

Skattie, liefie, bokkie, poppie of sweetheart is die algemene troetelname wat vroue in laer- tot middelvlakposisies deur hul base genoem word.

In ’n onlangse studie deur die Amerikaanse navorsingswebtuiste OnePoll, wat onder 3 000 vroulike werknemers gedoen is, word aangetoon vroue se mees gehate troetelnaam in die werkplek is “liefie”.

Die opname toon sowat ’n driekwart van die vroue het gevoel troetelname in die werkplek is onaanvaarbaar, en een uit drie het gesê dit maak hulle kwaad om op ’n troetelnaam eerder as hul noemnaam genoem te word.

Benewens die feit dat vroue ontnugter word deur die gebruik van troetelname, word daar ook gespook om ’n vastrapplek in die werkplek te vind.

’n Nuwe studie deur die Suid-Afrikaanse verifikasiediens Grant Thornton wys vroue hier word beslis nog in die werkplek gemarginaliseer.

Net 23 persent van senior posisies landwyd word deur vroue beklee terwyl 39 persent van sakeondernemings glad nie vroulike verteenwoordigers in senior poste het nie.

En selfs diegene wat daarin slaag om bestuursposisies te beklee, word steeds nie as gelykes met hul manlike kollegas behandel nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Master Card-vroulike vooruitgangsindeks word vroue in die korporatiewe wêreld gemarginaliseer ten spyte van bestuursposisies. Die indeks toon net 73,4 persent van vroue word as gelyk beskou teenoor die aanvaarbare 100 persent wat dit eintlik moet wees.

Lee-Ann Bach, ’n direkteur van Grant Thornton, meen die stryd is onoorkombaar as dié syfers nie verbeter nie. “Ons verloor ’n belangrike geveg wat die bevordering van vroue gaan benadeel.”

– Jacques Myburgh

Lees ook op Huisgenoot.com:

Kylie Jenner pryk skielik weer met dun lippies en laat omtrent die internet kopkrap

‘Ek moes dae lank na leuens luister,’ sê regter in Zephany-saak

Die ooievaar is omtrent besig onder bekendes – kyk wie se dogtertjie is ook gebore!

Liam Payne dolverlief op Cheryl Fernandez-Versini

Twee vissermanne sterf ná boot aan Weskus omslaan

Drie verdagtes vas ná Tokai-moord