Dit staan lente se kant toe en dis nie net ’n tyd vir huis opruim nie – jy gaan dié tyd van die jaar ook deur jou begroting en kyk wat jy daar kan regruk.

In sulke tye duik een vraag dikwels op: Moet ek getrou elke maand my premie vir lewensversekering betaal? Wat help dit my regtig, veral as ek jonk en finansieel gesond is?

Versekering is maar altyd iets waarvoor ’n mens teësinnig betaal, sê Warren Ingram, bekroonde finansiële beplanner. Niemand wil glo hulle kan skielik sterf of in ’n ongeluk beseer word nie. Om dit te vererger, is versekeringsprodukte dikwels onnodig ingewikkeld.

Maar omdat lewensversekering jou en jou geliefdes teen talle risiko’s beskerm, kan dit net soos jou huis of pensioen as ’n bate beskou word, sê Nico Swart, Unisa-lektor en skrywer van Personal Financial  Management.

Die meeste Suid-Afrikaners is onderverseker, waarsku Peter Cronje, hoof van bemarking by OUTsurance. Mense weet dikwels nie hoeveel hul afhanklikes in hul afwesigheid nodig gaan hê nie.

“Party beskou lewensversekering as ’n ‘luukse item’ en verkies om onder finansiële druk hul lewenspolis te kanselleer eerder as om byvoorbeeld hul vermaakbegroting af te skaal.”

Dit gaan alles daaroor om jouself en jou geliefdes – finansieel afhanklikes – teen ’n verlies aan inkomste te beskerm, verduidelik Warren. Indien jy as broodwinner sterf, wil jy immers jou geliefdes finansiële teenspoed spaar. Jy wil ook jouself beskerm as jy weens omstandighede nie meer ’n inkomste kan verdien nie, sê hy.

WAT BEHELS DIT?

Jy kan ’n alleenstaande lewenspolis koop wat net uitbetaal as jy sterf, sê Warren. Ander produkte betaal net uit as jy medies ongeskik verklaar word.

Die meeste Suid-Afrikaners is onderverseker
Peter Cronje, hoof van bemarking by OUTsurance

“Maar baie dikwels word die twee gekombineer. Aanvanklik, veral terwyl jy jonk is, kan jou lewensdekking taamlik goedkoop en ongeskiktheidsdekking aan die duur kant wees. Die meeste maatskappye sal dit egter as ’n pakket aan jou probeer verkoop.”

Dit kan ook gevreesdesiekte-dekking insluit, voeg hy by. “Ons loop vandag eintlik ’n groter risiko om ’n gevreesde siekte op te doen as om fisiek gestremd te raak. Kanker of ’n hartaanval is ’n groter waarskynlikheid as dat ons byvoorbeeld ons bene in ’n ongeluk verloor.”

HOEVEEL IS NODIG?

Maak ten minste seker jou gesin is skuldvry as jy wegval, meen Warren. Hy stel ook dié nuttige riglyn voor: Vermenigvuldig jou jaarlikse inkomste met 20. Die antwoord is die minimum bedrag waarvoor jy verseker moet word.

Gestel jy verdien jaarliks R120 000. Vermenigvuldig dit met 20. Dit gee jou ’n enkelbedrag van R2,4 miljoen. Anders gestel, vir elke R10 000 aan maandelikse inkomste wat iemand by afsterwe wil laat vervang, is R2,4 miljoen aan lewensdekking nodig.

Oorweeg jou inkomste, uitgawes, skuld, spaargeld en jou afhanklikes se verwagte toekomstige uitgawes wanneer jy besluit hoeveel dekking jy nodig het, sê Peter. “Dit gaan eindelik oor wat nodig is om ’n bepaalde lewenspeil vir jou afhanklikes in jou afwesigheid te verseker.” Lewensversekering kan duur wees vir sommige en goedkoop vir ander. Versekeraars bepaal premies op grond van jou persoonlike risikoprofiel (ouderdom, geslag, beroep, ensovoorts) en mediese geskiedenis.

WIE MOET VERSEKER WORD?

Veral ouers met jong kinders. “Hulle behoort ’n sterk pligsbesef te hê dat na hul spruite omgesien sal word indien hulle wegval,” benadruk Warren. Maar mense kan vroeg in hul werkloopbaan al dekking sterk oorweeg. Omvattende ongeskiktheidsdekking is belangrik al het jy aanvanklik nie afhanklikes nie.

As jy en jou nog kinderlose maat albei ’n inkomste verdien en gesamentlike skuld het omdat julle saam huis gekoop het, behoort jy dekking te hê om te verseker jou maat word nie finansieel in die steek gelaat as jy sterf nie. “Jy behoort dus dan minstens genoeg dekking te hê sodat die huis afbetaal kan word,” sê Warren.

“As jy kinders het, moet jy vir hulle voorsiening maak, ongeag of jy getroud is.” Ouers kan wonder of hulle lewensdekking nodig het as hulle albei werk. Jy redeneer dalk jou maat wat agterbly, kan na die kinders omsien. “Maar daar kan steeds ’n verband of huur wees om te betaal en jou maat sal waarskynlik hulp nodig hê om as enkelouer na die kinders om te sien, byvoorbeeld met dagsorg.”

Selfs al dink jy jy het baie geld om in jou boedel vir jou familie agter te laat, moet jy onthou boedelbelasting kan daardie welvaart lelik knou, sê Warren.

“As ’n mens nie wil hê die familie moet noodgedwonge eiendom verkoop om boedelbelasting te betaal nie, kan jy jou lewensdekking bloot daarvoor behou.”

Selfs al dink jy jy het baie geld om in jou boedel vir jou familie agter te laat, moet jy onthou boedelbelasting kan daardie welvaart lelik knou
Warren Ingram

“Kry ’n mate van lewensdekking terwyl jy nog taamlik jonk en gesond is,” meen Peter. “As jy dit tot te laat in jou lewe los, kan dit weens jou risikoprofiel moeilik of selfs onmoontlik wees om dit te kry.”

KIES DIE REGTE POLIS

Kry minstens drie kwotasies, verkieslik van onverwante bronne, beveel Warren aan. Dit kan óf drie groot versekeringsmaatskappye wees óf drie verskillende agente. Jy kan ook onafhanklike finansiële beplanners benut, maar dan moet hulle jou steeds minstens drie verskillende kwotasies bied.

Maak seker jy vergelyk appels met appels, voeg hy by. Moenie net kyk na die dekking of die premie nie; werk uit hoeveel jy vir elke polis per miljoen rand se lewensdekking of ongeskiktheidsdekking sal betaal. “Probeer seker maak jy weet wat jy per rand kry wat jy maandeliks betaal in terme van elkeen van jou voordele: lewens-, ongeskiktheids- en gevreesdesiekte-dekking.”

En “dom vrae” bestaan nie, benadruk hy. Vra dat terme wat jy nie verstaan nie in gewone taal aan jou verduidelik word. Sommige lewensversekeraars bied interessante tierlantyntjies, maar dit gaan allereers oor jou basiese dekking, maan Peter. Maak seker jou risiko’s is gedek teen ’n premie wat jy nou en in die toekoms sal kan betaal.

Ondersoek ook versekeraars se ervaring om seker te maak hulle is professioneel en betaal wel eise uit, sê Karin Muller, uitvoerende hoof van Sanlam Risiko. “Let op na beperkings of uitsluitings, soos byvoorbeeld selfdooduitsluitings,” sê sy. Uitsluitings is klousules in jou kontrak wat bepaal dat ’n eis onder sekere omstandighede nie uitbetaal word nie.

PAS AAN

Dit is lonend om jou dekking mettertyd aan te pas, sê Warren. Aanvanklik het jy dalk baie skuld wat ná jou dood gedelg sal moet word, maar namate jy jou skuld verminder, sal jou behoefte aan dekking verander. Wanneer jy byvoorbeeld trou en kinders kry, sal daardie behoefte opnuut verander. Wanneer jou kinders uit die huis is, sal jou skuld beduidend verminder en so ook jou dekkingsbehoeftes. Warren sou sy lewensversekering en premies elke drie jaar hersien. As jou gesondheid voorheen relatief swak was en jy baie fikser en gesonder geraak het, kan lewensdekking vir jou goedkoper raak.

Probeer ook maar oor die jare getrou spaar sodat jy bates kan opbou.

“Namate jou beleggings groei, kan jy begin sê jy wil minder dekking hê.” 

MOENIE JOK NIE

As jy om ’n polis aansoek doen, moet jy die volle waarheid oor jou gesondheid en leefstyl vertel. As jy sterf of ongeskik verklaar word, sal die versekeraar jou mediese rekords deeglik nagaan om te sien of jy al die feite in jou versekeringsaansoek verskaf het, sê die finansiële beplanner Warren Ingram. As jy êrens gejok het, kan jou familie sonder voordele gelaat word.