Dis die einde van die jaar. Jy het hard gewerk en jou werkgewer beloon jou met ’n jaareindbonus. As dit jou eerste 13de tjek is, kan die versoeking groot wees om die hele bedrag te blaas. Selfs al is dit nie jou eerste nie, het jy dalk lus om jou met nuwe klere, meubels of ’n seevakansie te bederf. Dink weer, en wees liewer geldwys. Delg van jou skuld daarmee of belê van die geld vir eendag. Hier is vyf nuttige wenke.

1. Stel geldelike doelwitte

Skryf jou kort- en langtermyn finansiële doelwitte neer, soos om binne die volgende vyf jaar ’n huis te besit, al jou skuld te delg, ’n motor te koop of vir jou kinders se naskoolse studie te betaal. Herinner jou aan jou doelwitte wanneer jy lus het om jou bonus te blaas.

2. Verminder jou skuld

Gebruik jou bonus om jou skuld te verminder. Fokus op jou rekenings met die hoogste rentekoerse, soos kredietkaarte (wat soms rentekoerse van tot 29 persent het) en winkelkaarte. Verminder dan die bedrag wat jy skuld op jou studielening (as jy een het) of op jou motorlening.

3. Verlaag jou huislening

As jy ’n huis of woonstel besit, betaal ’n deel van jou huislening met jou bonus af. Dit sal die rente op jou lening verminder, en jou toegang gee tot kontant wanneer jy dit in ’n noodgeval nodig kry.

4. Vermeerder jou spaargeld vir noodgevalle

Betaal ’n deel van jou bonus in jou spaarrekening sodat jy geld het vir ’n reëndag. Kry inligting by jou bank oor spaarrekenings, en spaar ’n bedrag wat gelykstaande is aan drie tot ses maande se salaris, die aanbevole bedrag wat jy volgens kenners opsy moet sit. Die geld sal maklik bekombaar wees as jy ’n onverwagte (en duur) krisis beleef, soos ’n mediese noodgeval.

5. Belê ’n deel daarvan

Belê ’n eenmalige bedrag in ’n konserwatiewe eenheidstrust of bankrekening, soos ’n 32-dae-kennisgewing- of vastedepositorekening. Jy kan ook belê in RSA-kleinhandelstaatseffekte by die Poskantoor of in versekeringsmaatskappye. As jy langtermyn dink, kan jy in ’n aftree-annuïteit belê, wat belastingvoordele inhou.

Ruwaydah Lillah

Bron: Huisgenoot-argief