Vakansie en skuld hoef nie dié Kerstyd hand aan hand te gaan nie.  Bespaar op petrol en bederf jou en jou geliefdes met die ekstra geld.

Met ’n groot deel van ons inkomste wat deesdae in ons motor se brandstoftenk beland, kan dié wenke jou help bespaar op die lang pad sodat jy meer kilometers uit jou brandstoftenk kan kry.

  1. Sorg dat jou banddruk reg is, so nie, kan dit die enjin harder laat werk, en dit lei tot groter brandstofgebruik. Dit kan ook baie gevaarlik wees.
  2.  Hou jou voertuig goed in stand, want anders sal dit nie werk soos dit moet nie. Verstopte filters en olieprobleme kan byvoorbeeld keer dat die enjin optimaal werk.
  3. Eksterne toebehore soos dak- en fietsrakke moet afgehaal word wanneer julle dit nie gebruik nie. Dit beïnvloed die lugvloei om die voertuig en kan maak dat jy meer brandstof verbruik.
  4. Gebruik lugverkoeling omsigtig; dit laat die enjin ook harder werk.
  5. Verwyder onnodige gewig uit die passasiersruimte of kattebak.
  6. Probeer om nie ’n voertuig onnodig te laat luier nie en verminder ry-en-stop-bestuur.
  7. Moenie te vinnig versnel nie. Dít en ’n hoë enjinspoed kan meer brandstof gebruik. Versnel liewer geleidelik tot die verlangde snelheid. Volgens BP word ratverandering teen 2 500 r.p.m. vir petrolvoertuie aanbeveel en teen 2 000 r.p.m. vir dieselvoertuie.
  8.  Moenie kort entjies ry nie. Wanneer die enjin koud is, gebruik dit meer brandstof. Kombineer verskillende uitstappies en onderneem een rit.

Deur: Letitia Watson