1. Maak seker elkeen het hul eie tjekrekening en kredietkaart. Moenie verantwoordelikheid aanvaar vir iemand anders se verkwisting nie.
  2. Vind reeds vroeg in die verhouding uit hoeveel skuld julle saam gaan hê. Julle moet absoluut eerlik wees hieroor so nie kan dit ernstige finansiële gevolge inhou.
  3. Albei partye moet ’n aftreefonds hê. Een salaris is nie voldoende om twee mense tydens aftrede te onderhou nie. As elkeen ’n reserwe opgebou het, kan dit ook ’n moontlike egskeiding vergemaklik.
  4. As albei ’n salaris verdien, moet julle vooraf ooreenkom wie gaan vir wat betaal. Dit kan ’n sensitiewe saak wees; daarom word aanbeveel om alles van pensioenfondse tot daaglikse uitgawes op ’n proporsionele basis te verdeel.
  5. Enige bedrag wat as ’n bonus inkom, moet verdeel word in die onderskeie spaarplanne of gebruik word om skuld te delg.
  6. Oorweeg dit om albei partye se naam op die verbandregistrasiedokumente aan te bring.
  7. Elke party moet verkieslik ’n bietjie “sakgeld” kry. Dit hoef nie ’n groot bedrag te wees nie en dit hoef nie eens vasgestel te wees nie, maar selfs net ’n paar honderd rand sal elkeen ’n klein bietjie finansiële vryheid gee.
  8. As die partye se bestedingspatrone kwaai verskil en die een is baie konserwatiewer as die ander, moet julle probeer om ’n middeweg te vind. As een maat die gesin se geldsake wil bestuur, moet die ander ook betrokke wees sodat hy/sy ’n idee kan kry van wat dit kos om ’n huishouding te onderhou.
  9. As die een onwillig is om inligting te verklap, moet die ander daarop aandring, want hy/sy het ’n reg om te weet. As die ander maat steeds niks wil sê nie, moet jy dit oorweeg om ’n makelaar te spreek. As iemand onwillekeurig is om oor geldsake te praat, kan dit ’n aanduiding wees daar is ’n probleem of hulle het ’n fout begaan. Dis belangrik om te beklemtoon dat jy nie jou maat onbekwaam wil laat voel nie, maar dat jy net wil help as daar fout is. Albei maats moet openlik wees oor die gesin se geldsake.
  10. As julle sukkel om ’n ooreenkoms te bereik, kan dit dalk nuttig wees om ’n onpartydige tweede mening in te win. Kry ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en vra hulle moet julle help om doelwitte en jul geldstrategie te bepaal. Die finansiële beplanner kan ook probleemgebiede uitwys en die situasie bemiddel.

Bron: Standard Bank Persverklaring