Dis moeilik om nie afgunstig te wees op mense wat die werk doen waarvan jy nog altyd gedroom het nie.

Die meeste van ons het al in die een of ander stadium so gevoel en ken die neerdrukkende gevoel wanneer jy vieruur op ’n Sondagmiddag besef jy moet weer die volgende dag inval by ’n werk waarvan jy net mooi niks hou nie. Maar hoe het dié mense ’n werk gekry waaroor hulle dol is? Dis mees as net geluk. Kom ons kyk na maniere hoe om jou droomwerk in ’n werklikheid te omskep.

Luister na jouself

Die meeste van ons het al herhaaldelik oor ’n moontlike werk gedink, en dit is gewoonlik die mense wat na daardie innerlike stem luister wat die gelukkigste is. Dalk wou jy nog altyd skryf, maar meen dit is te moeilik om in die joernalistiek ’n deurbraak te maak. Of skoonheid prikkel jou belangstelling, maar jy twyfel of jy genoeg geld sal kan verdien. Jy moet jou passie vind en ophou om die stem in jou kop stil te maak.

Besluit op jou rigting

Jy weet wat jy wil doen. Die vraag is nou: Hoe?  Dalk is jy gereed om ’n nuwe onderneming op die been te bring. Of dalk is jy te besorg daaroor om jou rekeninge te betaal. In dié geval is aand- of naweekklasse ’n goeie idee. So kan jy sien of jou passie ’n lewensvatbare loopbaan is en wenke kry oor hoe om dit te laat werk. As dit skryf, kuns of fotografie is waarvan jy hou, kan jy die oorweeg om ’n webtuiste (dit hoef nie ’n fortuin te kos nie) of ’n blog (wat gratis kan wees) te begin. So kan jy jou idees bekendmaak en kyk of jy jou passie soveel geniet as wat jy gedink het jy sou.

Spring in

Dalk verskil jou gekose veld hemelsbreed van jou huidige een. Dalk het jy ’n onderneming begin, maar besef jy moet dit effens aanpas. Gaan dan oor tot aksie. Die hele punt is om jouself gelukkiger te maak. Moenie bang wees om te erken jy het ’n fout gemaak of moet weer opgelei word nie.

Hoekom?

Wanneer jy ’n groot verandering in jou lewe maak, kan dit gou oorweldigend lyk; daarom is dit belangrik om altyd te dink waarom jy iets nuuts wil beproef. Probeer onthou dit is jou passie en hoe ongelukkig jy voorheen was. Dit behoort jou aan te dryf. En dit is ook ’n goeie idee om te oorweeg wat jy wil bereik. Dit is uitstekend om ’n hoofdoelwit te hê, maar dink ook soms aan die kleiner goed wat jy wil bereik. So kan jy ’n klein viering hou elke keer dat jy ’n mylpaal behaal – of dit nou ’n sekere getal lesers is of om ’n  professionele kwalifikasie te behaal.

Bou ’n netwerk op

Dit gaan nie net daaroor om mense te vind wat vir jou iets kan beteken nie. Soms is dit goed om vriende te hê wat soos jy voel. Probeer ’n groep vind wat ook verskillende aktiwiteite doen. Dalk beteken dit ander eienaars van klein ondernemings, suksesvolle bloggers of ma’s wat weer gaan studeer het. Wat jy ook al aanpak, kontak met ander mense met dieselfde ingesteldheid as jy sal jou sukses help behaal.

© Cover Media