Deur Ruwaydah Lilliah

In strawwe omstandighede dank klein ondernemings dikwels personeel af om koste te bespaar en in die ongenaakbare sakewêreld te oorleef. Maar sulke drastiese stappe kan voorkom word. Om staande te bly moet jy jou korttermynwerklikheid en langtermyndoelwitte in gedagte hou, sê Rehema Isa, besturende direkteur van Fuse Project Management and Consulting in Pretoria, wat sakeontwikkelingsoplossings vir openbare en privaat ondernemings bied. “Bestuur jou uitgawes doeltreffend en jy sal ’n balans tussen kort- en langtermynvooruitsigte vind,” voeg sy by. Ons het Rehema gevra om wenke saam te stel oor hoe jy koste en poste kan bespaar en eindelik jou klein onderneming kan red.

Gaan oor tot aksie

Inligting is die sleutel tot die bestuur van jou onderneming, verduidelik Rehema. “Jy kan nie ’n duidelike begrip hê van waarheen jy op pad is tensy jy weet waarvandaan jy kom nie.” Finansiële state bevat daarom belangrike inligting oor die gesondheid van jou onderneming. Wanneer jy kostes bestuur, moet jy behoorlike finansiële inligting hê om ’n ingeligte besluit te neem.

Kyk na:

Finansiële verslae

Berei altyd finansiële verslae voor, wat die volgende sal insluit:

  • ’n Inkomste- en kontantvloeistaat. Hulle is ’n beginpunt om die onderneming se inkomste en uitgawes te ontleed. Gewapen met hierdie inligting moet jy begin kreatief raak en ’n bietjie huiswerk doen. Vind uit of daar goedkoper alternatiewe is vir dit waaraan jy geld bestee.

Bestuursrekeninge

As jy dit nie reeds doen nie, ontwikkel en gebruik bestuursrekeninge, in die besonder begrotings. Dit sal jou ’n idee gee van wat jy tot jou beskikking het. Elke keer dat jy wil geld uitgee, moet jy jouself afvra:

  • Is dit noodsaaklik?
  • Het ek hiervoor begroot?
  • Kan my onderneming dit nou bekostig?
Dit sal jou help om nie meer uit te gee as wat jy kan nie.

Oor die kort termyn

Die korttermynwerklikhede van ’n onderneming konsentreer gewoonlik op die bestuur van huidige kontantvloei. As sake-eienaar moet jy sorg dat daar genoeg kontant is om die onmiddellike sake te bestuur terwyl jy langtermyndoelwitte verseker.

Daar is verskeie maniere om die kostes in ’n onderneming te bestuur:

Moenie langtermynverpligtinge soos huurkontrakte vooruit aangaan nie

  • Dit gee jou meer buigsaamheid wat bekostigbaarheid betref. “Hoewel korttermynhuurkontrakte jou dikwels meer uit die sak kan jaag, kan jy nie spaar nie as die koste van langtermynhuurkontrakte wat nie betaal kan word nie daartoe lei dat jy op ’n swartlys beland,” sê Rehema.
  • Kies voorafbetaalde sel- of landlynfone, want dit maak groter beheer oor kostes moontlik. Die geheim is om binne die begrote perk te bly; dit verydel die doel om die vasgestelde begroting te oorskry.
  • Gebruik deeltydse personeel pleks van voltydse werkers. Dit sal jou in staat stel om jou kontantvloei beter te bestuur en ook langtermynverpligtinge beperk.

Wanneer verpligtinge reeds aangegaan is, heronderhandel die bepalings om by jou huidige omstandighede te pas.

  • ’n Aantal sake-eienaars het al hul huurkontrakte gekanselleer en na hul motorhuis of huiskantoor teruggetrek om geld te spaar.
  • Ander deel die koste van persele en hulpbronne met ander sake-eienaars in ’n soortgelyke veld wat nie direkte mededingers is nie.

Gebruik gratis of afslagopsies

  • Gebruik gratis sagteware pleks van gelisensieerde sagteware wat geld kos. Daar is ’n aantal goeie opsies wat baie soos die tradisionele lisensieopsies lyk en voel.
  • Gratis internetplatforms is ook beskikbaar vir kommunikasiepoorte. Skype bied byvoorbeeld ’n kommunikasiemiddel teen die koste van jou breëbandverbinding teenoor tradisionele selfoon- en landlynkoste, wat duurder is. Dit is ook veel goedkoper as om vir vergaderings van stad tot stad te vlieg.
  • Gratis netwerke soos Facebook, LinkedIn, Twitter, Google, om maar ’n paar te noem, maak dit moontlik om jou produkte aan ’n breë en selektiewe mark te bemark, óf gratis óf teen ’n baie lae koste.
  • Gebruik sover moontlik studente as interns of vrywilligers. Moet jou nie tot hoërskole beperk nie; nader technikons en universiteite. Studente, selfs meesters- of doktorsgraadkandidate, het ervaring nodig, terwyl jy ekstra kapasiteit nodig het. Maar wees bereid om daaraan tyd te bestee om hul vaardighede te bou.

Prysbepaling

  • Ken jou mededinger se pryse. Moet jouself nie te na kom deur te min te vra nie.
  • Moenie jou prys verlaag vir ’n klant wat nie omgee om die volle prys te betaal nie.
  • Maak vooruitskattings en weet wat iets jou gaan kos. As jy werk in ’n ander provinsie aanvaar het, gebruik subkontrakteurs in daardie gebiede pleks daarvan om geld te bestee en tyd te mors om na ’n gebied te reis wat jy nie ken nie.

Oor die lang termyn

Langtermynvooruitsigte fokus op die groei of visie van jou onderneming, soos:

Belê in prosesontwikkeling en sertifikasie

  • Oor die korttermyn is dit duur, maar die langtermynvoordele is onder meer ’n goeie organisasiestruktuur om ’n meer vaartbelynde en kostedoeltreffender onderneming te verseker.

Belê in outomasie en tegnologie

  • Dit maak beslis sin om sekere sakefunksies met die hand te doen, maar as die koste of gehalte van masjinerie goedkoper is, oorweeg om dit te gebruik, huur of koop.
  • In vandag se tegnologiegedrewe wêreld is dit wys om by tegnologie aan te pas en te identifiseer waar dit jou onderneming sal verbeter.

Belê in navorsing   

Entrepreneurs kan soms so besig wees om te probeer kop bo water hou dat hulle nie die mark genoeg te bestudeer om te meet wat anders kom, te kyk wie dinge anders doen en watter verbeteringe hulle in die onderneming kan en moet maak nie. Navorsing en ontwikkeling is nie net vir groot sakeondernemings nie; dis die mededingende voordeel vir enige onderneming, sê Rehema.