Ná die onlangse voorval waar kuberkrakers bekendes in Hollywood se foto’s op die fotobergingsprogram iCloud afgelaai en gedeel het, is dit belangriker as ooit om jou wagwoorde veilig te bewaar.

;

“As gebruikers van tegnologie moet ons waaksamer wees oor veiligheid. Ons is geneig om verjaardae, troeteldiername en baie basiese syferkombinasies as wagwoorde te gebruik, en kuberkrakers kan dit baie maklik uitpluis,” sê Riaan Swart, stigter en direkteur van Solv, ’n IT-maatskappy in Kaapstad.

Riaan deel nuttige wenke om te verseker net jy het toegang tot jou persoonlike inligting:

Beskerm jou wagwoorde

-       Skep lang wagwoorde met hoof- en kleinletters, syfers en selfs spesiale karakters.

-       Moet hierdie wagwoorde nooit neerskryf of dit op jou foon of rekenaar bêre nie, en moet dit nie met enigeen deel nie.

-       Moenie dieselfde wagwoord vir meer as een webtuiste gebruik nie.

Kry ’n tweestap-verifikasiestelsel   

-       Dit tree op as ’n dubbele verifikasiestelsel wanneer jy jou wagwoord verander. Jy sal ’n e-pos en ’n SMS kry om veranderinge te verifieer. Die SMS kos nie ’n sent nie en kan jou baie stres en moeite spaar. Google, Gmail, Dropbox, Microsoft, Facebook en ’n paar ander webtuistes bied hierdie veiligheidsverstellings, maar nie baie mense gebruik dit nie.

Beveilig jou eie rekenaar

-       Maak seker dat alle sagteware op datum is en dat jy teenvirus-sagteware geïnstalleer het.

-       Moenie onbekende e-poshegstukke oopmaak of op enige skakels klik in e-posse van mense wat jy nie ken nie.