In ’n ondersoek deur Fin24 is bevind basiese inkopies sal ’n gesin van vyf minstens R1 146,57 per maand uit die sak jaag.

Dit is minstens 52 persent meer as die toelaag van R753 wat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, aanbeveel vir ’n hulpbehoewende huishouding.

Fin24 het by Shoprite in Mowbray, Kaapstad, gaan inkopies doen om vas te stel hoeveel een maand se basiese noodsaaklikhede ’n gesin van vyf sal kos. Hierdie noodsaaklikhede sluit bederfbare en nie-bederfbare produkte in. Die goedkoopste items op die rakke is gekies en die hoeveelhede was konserwatief.

Fin24 se inkopies het R393,57 meer beloop as die R753-toelaag wat maandeliks aan behoeftige gesinne gegee word.

Dlamini het in Mei vanjaar in reaksie op die DA se parlementêre vraag gesê die huidige maatskaplike toelaag van R753 per maand oorskry die boonste grens van die broodlyn. Sy meen dis voldoende vir kos en ander items.

Sedertdien het die minister kwaai onder kritiek deurgeloop, waarna die DA haar genooi het om Woensdag saam met hulle by Shoprite in Soweto te gaan inkopies doen sodat hulle kan bepaal wat daar met R753 aangeskaf kan word.

Bridget Masango, DA-woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, het in ’n verklaring gesê in die lig van die hoër voedselpryse weens die droogte en ander faktore is die minister se uitsprake uiters onsensitief en heeltemal onwaar.

Bron: Fin24