1. Maak ’n afspraak met ’n finansiële beplanner. Vra raad by ’n ouer mens wat al lank van so iemand se diens gebruik maak en wat dus weet dat hy of sy betroubaar is. ’n Finansiële beplanner kan jou raad gee oor hoe jy jou salaris moet verdeel tussen noodsaaklikhede en vermaak, met ander woorde hoe om ’n begroting op te stel. As jy van meets af aan volgens ’n begroting leer leef, sal jy nooit in ’n geldelike verknorsing beland soos om in die derde week van die maand droë pasta te moet eet omdat jou geld op is nie.

2. Begin spaar. Dit gaan jou seermaak wanneer jy moet nee sê vir nog ’n naweek weg saam met jou vriende of nog ’n ete in ’n restaurant. Maar wanneer jy eendag ’n deposito kan neersit op jou eerste woonstel, gaan jy nie meer huil nie.

3. Begin beplan vir jou aftrede. Ja regtig, jy sál eendag ’n afgetredene wees (behalwe as jy vroeër sterf). Hoe gouer jy planne maak vir jou aftrede, hoe groter is die kans dat jy op jou oudag ’n gawe dak oor jou kop sal hê en jaarliks oorsese sal kan reis.

SOURCE: Elna van der Merwe - Leefstylherskrywer  Huisgenoot, YOU & Drum