Met alles wat tans in die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die gang is, is dit nie eens skokkend nie.

Die rand sukkel, sondebelasting help nie juis veel nie en ons het suikerbelasting nodig ten einde gesond te bly en vetsug te beveg in die gegoede dele van Suid-Afrika voor dit na die armer dele van die land versprei!

Uit watter oogpunt jy die saak ook al beskou; elkeen het iets om oor te kla en nie veel om mee te spog nie.

Die stygende rentekoerse en elektrisiteits- en kospryse is genoeg om ’n pas gegradueerde mens met geen vorm van spaargeld waaruit hulle kan put nie, bankrot te maak.

Die werklikheid is dat die meeste van die mense in hierdie groep val.

Talle toegangsvlakberoepe word aan die begin van elke jaar gevul met onlangs gegradueerdes met min of geen bystandsplanne; net ’n splinternuwe kwalifikasie en ’n dringende behoefte om hul florerende toekoms te laat vlam vat.

Kort nadat hulle hul eerste betrekking gekry het, begin hulle besef hierdie manier van lewe is moeiliker as wat hulle gedink het. Mense wat vir die eerste keer ’n inkomste verdien, het heelwat “sosiale behoeftes” om te bevredig ten einde deel te wees van die jong, suksesvolle en geleerde generasie.

Lees ook: Sit dit af, sit dit af . . . Só kan jy lag-lag krag én geld spaar!

Die behoefte aan ’n betroubare ryding, wat deur baie van hulle geregverdig kan word aangesien baie beroepe reis verg; ’n gerieflike, veilige blyplek; uitrustings wat geskik is vir die werk; en ’n sosiale lewe met eendersdenkende mense, vorm alles deel van hierdie verskynsel.

Al dié vereiste “sosiale behoeftes” het ongelukkig baie aantreklike prysetikette, en kort nadat hulle een of almal hiervan aangeskaf het, gaan die jongmense die grootmenswêreld van skuld binne.

Maklik en eenvoudig, of so lyk dit altans.

Dit lei egter tot slegte kredietgraderings onder die jeug wanneer hulle voor die eenvoudigste finansiële probleem te staan kom en hulle nie gereelde paaiemente betaal om alles wat hulle op skuld gekoop het, te dek nie.

Kort daarna verskyn hul naam op die lys van al wat ’n kredietburo is.

As hulle in hierdie stadium nog niks geleer het oor finansies nie, gaan jongmense hulself maklik in die donker wêreld van volwassenes op die swartlys bevind – en dis nie maklik om uit hierdie put te kom nie.

Sodra jy meer skuld het as wat jy kan bekostig, is jy op pad na ’n ernstige finansiële verknorsing. Betaal alles wat jy kan en sluit rekenings wat nie finansieel sin maak nie. Gesels met jou krediteure.

Verduidelik wat jy besig is om te doen en vra hulle om te help.

As jy elke maand, of selfs elke tweede maand, ’n nuwe rok kontant kan koop, is daar geen rede om ’n klererekening te hê wat jou elke maand verlei om meer klere op skuld te koop wat jy nie nodig het nie.

Soos jy jou begroting elke maand losser maak, moet jy soveel geld moontlik opsysit en dit in ’n belastingvrye spaarrekening deponeer. Dit is hoe jy begin.

Lees ook: Vyf dinge waarvoor mense nie begroot nie omdat hulle vergeet

Al die beleggingsopbrengste wat jy in hierdie rekenings verdien, is belastingvry.

Die Nasionale Tesourie het konsepregulasies opgestel wat lui dat beleggers van 1 November vanjaar in staat sal wees om te versoek dat bedrae geld oorgedra kan word binne ’n belastingvrye spaarrekening sonder dat dit ’n afname in hul jaarlikse en lewenslange limiete gaan veroorsaak – maksimum R500 000.

’n Ander keuse wat oorweeg kan word, is om jou swaar verdiende geld in effektetrusts te belê.

Effektetrusts bied jou blootstelling aan ’n reeks bates, soos aandele, verbande en eiendom, wat deur beleggingskundiges uitgesoek en bestuur word.

Die fonds is in ewe groot eenhede verdeel; dis waarom dit as “effektetrusts” bekend is.

As belegger besit jy ’n aantal effekte in elke fonds. Die prys van hierdie effekte hang af van die waarde van al die beleggings in ’n fonds.

Begin vandag vir jou toekoms spaar.

As jy elke maand geld wegsit, kan jy een van die gelukkige jong volwassenes wees vir wie banke uiters gretig is om geld vir ’n huislening te gee, hoewel jy aan streng vereistes moet voldoen.

Sodoende is jy in staat om meer in jou lewe te bereik, terwyl ander steeds noustrop trek.

Ander stories op Huisgenoot.com

Hier is hoe jy jou droomtroue stylvol EN binne begroting kan hou

Kry só daardie salarisverhoging wat jy al lank voor wens

Só vermy jy kaartmisdadigers se skelmstreke

As jou geld op die spel is kan jy moontlik gewig verloor