Vir baie mense is die versoeking groot om liewer die probleem self aan te pak as om ’n paar rand te betaal, min wetend dat hulle meer kwaad as goed gaan doen. Dit kan jou nie net meer geld uit die sak jaag op lang termyn nie, maar ook jou en jou passasiers se veiligheid in gedrang bring. “Gekwalifiseerde motorwerktuigkundiges weet en verstaan motors beter as Jan Alleman; daarom is dit beter om enigiets ernstigs en ingewikkelds aan die kenners oor te laat,” waarsku Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. Virseker lys van die moets en moenies wat selfdoen- motoronderhoud betref:

  • Doen jou huiswerk deur die vervaardiger se handleiding vir jou voertuig te bekom en na te gaan vir nog inligting oor die herstelwerk wat jy aanpak. Maak dubbel seker of en hoe hierdie herstelwerk jou waarborg kan beïnvloed.
  • Sien dit voor jy dit doen. Die beste manier om te leer is om saam met iemand te werk wat weet wat hulle doen. Jy kan ook betroubare forums en ander aanlyn bronne besoek.
  • Kry die gepaste gereedskap vir die taak wat jy onderneem. ’n Volledige stel pootjie-, swaaikop- en gewone moersleutels, tangsleutels, bykomstighede wat help om moeilike hoeke werk, skroewedraaiers en tange is altyd baie nuttig. Moet ook nie vergeet om enige spesiale gereedskap wat jy vir ’n spesifieke taak kort, aan te skaf nie.
  • Begin met die eenvoudige en maklikste herstelwerk en bou stelselmatig jou selfvertroue op deur te verstaan hoe alles werk en by mekaar pas.
  • Tref al die nodige veiligheidsvoorsorg om die risiko van beserings of skade aan die voertuig te verminder. As jy byvoorbeeld ’n beginner is, vermy enige take wat vereis dat jy op jou rug, diep onder die voertuig moet werk.
  • Vermy enige herstelwerk waar jy nie oor die nodige kennis of gereedskap beskik nie, veral dié wat ernstige nagevolge kan hê wanneer dit nie reg gedoen word nie. Dit sluit herstelwerk aan die remme, brandstoftoevoer, uitlaatstelsel en veringstelsel in.
  • Moenie huiwer om hulp te vra nie.