Identiteitsbedrog. Deesdae is die woord al genoeg om verbruikers en sakeondernemings kriewelrig te maak. Dis een van die vinnig groeiendste misdade in Suid-Afrika die afgelope jare.

[caption id="attachment_123844" align="alignnone" width="600"]Foto: Flickr Foto: Flickr[/caption]

En nes ID-diewe blykbaar op een gebied vasgevat word, steek hulle elders kop uit.

Huisgenoot het voorheen berig oor hoe skelms jou gesteelde identiteitsbesonderhede gebruik om rekenings oop te maak, lenings te kry, huurooreenkomste en duur selfoonkontrakte te sluit en werkaansoeke in te dien.

En eindelik sit die slagoffers met die gebakte pere. Hulle bevind hulle byvoorbeeld skielik op kredietburo’s se swartlys weens slegte skuld wat bedrieërs opgestapel het of hulle moet bewys hulle het nie die motor of daardie sitkamerstel gekoop nie.

Dikwels moet hulle baie tyd en geld daaraan bestee om hul naam skoon te kry. Ná alles verloor ondernemings miljoene rande weens ID-bedrog.

Nou is begrafnis- en lewensversekeringsbedrog deur identiteitsdiefstal blykbaar hoog op ID-diewe se “inkopielys”.

Dalk word daar nie so groot daaroor berig soos ander misdade deur middel van ID-bedrog nie, maar dit kan versekeraars se lewensvatbaarheid erg knou en mense se lewe ruïneer, verneem ons van FNB Life se versekeringspan.

So kan jy jou teen ID-diewe beskerm

Identiteitsdiefstal is ’n hoofoorsaak van begrafnisversekering- en lewensversekeringsbedrog, waar misdadigers niksvermoedende individue se identiteit steel en dan “byvoorbeeld vermom soos polishouers of begunstigdes” versekeringverskaffers bedrieg, sê Lee Bromfield, uitvoerende hoof van FNB Life.

“Dit kan onskuldiges ruïneer omdat identiteite wat gebruik word om bedrog te pleeg by bedryfsliggame en wetstoepassers aangegee word. Dit kos jou as slagoffer nie net tyd en geld om jou naam skoon te kry nie; dit kan jou ook werkgeleenthede kos en jou toekomsplanne laat ontspoor. Daarom is dit so belangrik om waaksaam te wees oor die beskerming van persoonlike inligting.”

Lees ook: Spaar so geld

Hoe gaan die skelms gewoonlik hier te werk?

“Die bedrieërs steel mense se identiteit en neem daarmee versekeringspolisse met hulself as begunstigdes uit,” sê Lwazi Stuurman, senior bestuurder van FNB korporatiewe kommunikasie. “Om die versekeringsuitbetaling te kry, laat hulle dan die bedrogslagoffer dood verklaar sodra die polis se wagtydperk verstryk.

“In ander gevalle kloon die bedrieërs wettige begunstigdes se persoonlike dokumente om versekeringsuitbetalings wat vir dié begunstigdes bedoel is, in die hande te kry.

“Daarom moedig ons alle verbruikers aan om verdagte kommunikasie aan hulle te monitor wat daarop kan dui dat jy begrafnis- of lewensdekking het terwyl jy nie sulke polisse besit nie.”

Lees ook: Wat jy moet weet vóór jy kredietkaartskuld aangaan

Beskerm jou soos volg teen die bedrieërs:

  • Sorg dat jou persoonlike inligting deurgaans veilig bewaar is -- bedrieërs buit mense se nalatigheid en glipse uit.
  • Hou deurgaans ’n ogie op jou ID en rybewys: Jy kan soms gevra word om dié dokumente vir verifiëring te toon. Ongeag die omstandighede moet jy probeer om dit nie onder jou oë uit te laat verdwyn nie, want jy weet nie altyd wat mense se bedoelings is nie.
  • Gee aandag aan daardie vreemde oproepe of boodskappe: Mense ignoreer dikwels onverwagte oproepe oor begrafnis- of versekeringspolisse wat hulle kwansuis uitgeneem het. Doen eerder dadelik self navraag by die betrokke verskaffer om te verseker jou identiteit is nie gegaps nie.

Saam met groot werkverliese bespeur ’n mens ook ’n toename in bedrog, insluitend ID- en versekeringsbedrog, verneem ons van Jaco de Jager, uitvoerende hoof van die Association of Certified Fraud Examiners.

Bedrog met begrafnisversekering is aantreklik vir ID-bedrieërs omdat dié polisse R25 000 tot R50 000 kan uitbetaal, meld hy. “Maar ID-bedrog word ook dikwels verbind met lewensversekeringsbedrog waar polisse [tien keer soveel] kan uitbetaal.”

Die probleem strek nog verder deurdat party mense hulself skelmpies “dood laat sertifiseer” om van reuseskuldprobleme te probeer ontsnap. “So kan daardie skuld verval.” Al word sulke streke taamlik maklik blootgelê, keer dit nie desperate mense om tog daarmee te probeer wegkom nie, vertel Jaco.

In een geval wat hy ondersoek het, is die identiteit van ’n bejaarde vrou van Lusikisiki vasgelê deur bedrieërs sodat hulle ’n begrafnisversekering-uitbetaling van derduisende rande kon bewerkstellig. “Ons het haar gaan wys waar sy kastig begrawe is.”

Die bedrieërs, dikwels sindikate, kry die nodige vorms om ’n sterfte te laat registreer skelm in die hande. Jaco beduie ongeïdentifiseerde lyke in lykshuise speel ook soms ’n rol in skelms se werkwyse.

Hulle stel vas waar sulke ongeïdentifiseerde gestorwenes vir ’n armebegrafnis (“pauper burial”) lê en wag “en gaan ‘eien’ dan as wie hulle ook al wil hê dit moet wees [met die oog op hul beoogde versekeringsbedrog]”.

Jaco vertel voorts van ’n ondersoek waar ’n man met “ ’n duplikaat-ID hom deur sy een dokument laat dood sertifiseer het” om ’n polisuitbetaling van sowat R500 000 te probeer bewerkstellig. Maar volgens die ander dokument het hy nog gelewe en op grond daarvan ’n salaris getrek.”

Jaco reken een van die beste maniere om jou teen ID-bedrog te beskerm is om jou jaarlikse gratis kredietprofiel by ’n kredietburo te trek.

So kan jy verseker daar was geen onverklaarbare transaksies of navrae oor jou kredietwaardigheid deur ondernemings wat jy nooit genader het nie.

Jy kan dus so kyk, verduidelik Jaco, “dat niemand dalk skuld onder jou identiteit aangegaan het, jy nie byvoorbeeld dalk ’n meubelrekening het wat jy nooit geopen het nie”; dat jou huwelikstatus en woonadres reg weerspieël word; en dat iemand jou nie dalk dood laat verklaar het nie.

Die Spaar- en Beleggingvereniging van Suid-Afrika se jongste beskikbare syfers toon meer as 7 300 bedrieglike sterfte- en begrafnis-eise ter waarde van meer as R400 miljoen is in 2014 gekeer.

Dit was drie keer meer sulke eise as in 2013.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer