Baie van ons betaal ons maandelikse versekeringspremie getrou, want ons neem aan ons sal ten volle gedek wees sou ons eis. Tog kan dit ontmoedigend wees as jy dan net ’n klein uitbetaling ontvang of skielik ’n groot bybetaling moet maak om die eis af te handel.

Bertus Visser, PSG Insure se uitvoerende hoof: distribusie, sê dis selfs erger as dit gebeur omdat jy jou polis verkeerd verstaan het of nie regtig bewus was van ingeboude bybetalings nie.

’n Bybetaling is die deel van enige eis wat jy na verwagting moet betaal. Bertus verduidelik as die bybetaling op jou polis byvoorbeeld R1 000 is en jou eis beloop R5 000, sal jou versekeraar gewoonlik net R4 000 uitbetaal.

Lees ook: Hoekom motorversekering belangrik is

Jy sal die bykomende R1 000 uit jou eie sak moet betaal. Hy sê ook party kliënte vergeet of weet nie van die bybetalings wat op hul eise van toepassing is nie; daarom kan dit frustrerend wees as ’n eis hulle baie meer kos as wat hulle verwag het.

Wees bewus van enige toegevoegde bybetalings, asook jou opsies

Daar is gewoonlik verskillende opsies wat bybetalings betref. Jy kan byvoorbeeld ’n hoër motorversekeringspremie betaal sodat jy geen bybetaling hoef te maak sou jy eis nie.

Bertus sê hoe hoër die bybetalingsbedrag is wat jy bereid is om te betaal, hoe laer sal jou premie wees, maar die beskikbare opsies hang af van jou verskaffer en die soort versekering wat jy koop.

Sekere versekeringspolisse, byvoorbeeld inhoudsdekking, vereis ’n bybetaling. In ander gevalle, na gelang van jou ouderdom en omstandighede, kan ekstra koste bygevoeg word. Jonger bestuurders word byvoorbeeld as ’n hoër risiko beskou.

Bertus sê in sommige gevalle kan vier of vyf vlakke van bybetalings onbekostigbaar raak. Dit beteken ’n eis word dalk nie toegestaan nie en kan veroorsaak dat jou beskadigde motor byvoorbeeld nie herstel kan word nie.

Aan die ander kant is daar ook gevalle waar jou versekeraar kan afsien van die bybetaling, soos in die geval van ? motorongeluk wat nie jou skuld was nie.

Lees ook: Maak so om die meeste voordeel uit jou versekering te put

Neem jou unieke behoeftes in ag

Bertus sê die verskillende bepalings en voorwaardes kan volgens die kliënt se behoeftes aangepas word. Jy het dalk spaargeld wat, indien nodig, ’n groot bybetaling kan dek en dit kan jou premie verlaag.

Aan die ander kant kan jy ook verkies om jou bybetaling so laag moontlik te hou en eerder ’n hoër premie te betaal.

Jy kan ook kies om aanvullende dekking op jou polis te hê, wat jou bybetaling kan dek. Aanvullende dekking is ontwerp om koste te dek wat jou versekeraar nie dek nie.

Bertus sê afhangend van jou dekking en die aard van jou eis, kan dit verseker dat jy nie platsak hoef te wees as jou versekering se uitbetaling nie al jou uitgawes dek nie of jou bybetalingsbedrag jou eis oorskry.

Dit is altyd beter om voorbereid te wees

Gaan jou polis gereeld na en maak seker jy is voorbereid sou jy moet eis. Bertus sê die bybetaling is nie noodwendig ’n bedrag wat jy normaalweg in ag moet neem nie, maar wees eerder voorbereid sodat jy genoeg geld opsy het vir ’n bybetaling of aanvullende dekking.

As jy onseker is oor wat die beste opsie vir jou is, is dit altyd ’n goeie idee om ’n finansiële adviseur te spreek.