Navorsing toon dit kos sowat R90 000 per jaar om ’n kind groot te maak, volgens die finansiële beplanner Sydney Sekese (CFP).

Sonder inflasie of groei bygereken kom dit neer op meer as R2,07 miljoen teen die tyd dat die kind 23 jaar oud word.

Hy vergelyk die uitgawe van kind grootmaak met ’n tweede verband op jou huis. Dit is omdat die proses ’n langtermynverbintenis is wat 23 jaar of langer kan duur – tot en met die begin van ’n eerste werk.

“Om ’n kind groot te maak is nie goedkoop of maklik nie. Daarom moet jy ’n behoorlike finansiële plan hê om te sorg jy kan jou kind die beste lewe moontlik gee en hom of haar goed op volwassenheid voorberei," sê Sydney, verlede jaar se wenner van die Finansiële Beplanningsinstuut se mediaprys.

Maandelikse uitgawes wat ’n mens in berekening moet bring, hang af van die leefstyl, huishoudelike inkomste, geldbestuur en houding van die ouer. Die vernaamste uitgawes is opvoeding, klere en vryetyd-aktiwiteite, soos balletklasse, speelgroepe en sportklubs.

Vir die ouers wat dit kan bekostig, moet die vermaakuitgawes van verskeie toestelle en speelgoed ook in berekening gebring word.

“Die meeste ouers is onkundig oor die verskeie uitgawes van kinders grootmaak. ’n Plan in die vorm van ’n begroting  is ’n goeie manier van uitgawes bestuur sodat ouers binne hul vermoëns leef,” sê Sydney.

’n Praktiese manier om die begroting te monitor is om 'n koevert vir elkeen van die groot uitgawes te skep en deur die loop van die maand al die betrokke kwitansies daarin te sit. Gaan dit dan aan die einde van elke maand na. As die koskoevert byvoorbeeld elke maand bult, beteken dit jy oorbestee aan kos.

Lees ook: Terug skool toe met ’n plan

Wat uitgawes vir opvoeding betref, word geraam drie jaar van universiteitsopleiding kos nou altesaam R300 000 tot R350 000 vir klasgeld, boeke, verblyf en kos, en ander uitgawes, soos ’n rekenaar, selfoon en internettoegang. Dit gaan na verwagting R1 miljoen kos teen die tyd dat ’n huidige sesjarige universiteit toe gaan.

Dit is gelyk aan ’n belegging van sowat R3 000 per maand, met die aanname van ’n opbrengs van 6 persent en dat die kind nou ses jaar oud is.

Nuttige wenke vir skooluitgawes:

Eunice Sibiya, hoof van verbruikersopvoeding by FNB, sê voorbereiding op die nuwe skooljaar kan uitdagend wees vir ouers wat in die feestyd te veel geld uitgegee het. Dit kan jou deur die moeilike Januariemaand help as jy geldslim besluite neem wanneer jy op die nuwe skoolkwartaal voorberei.

Moenie outomaties alles nuut koop nie

“Pleks van reguit winkel toe gaan, sif deur al die skryfbehoeftes en skooluniforms wat jy nog by die huis het,” sê Eunice.

“Ruim tyd in om deur al die oorskiet-items van die vorige skooljaar te gaan, soos lêers wat weer oorgetrek en gebruik kan word, potlode, penne en liniale, asook skoolsakke en verlede jaar se kosblikke wat dalk net deeglik geskrop moet word.”

Hoor by ander ouers of hulle enige skoolitems het wat hulle nie nodig het nie en vra of hulle dit sou oorweeg om items uit te ruil. Benut die skool se uitruilwinkel vir uniforms.

Koop skoolvoorraad slim

Pleks van alle skoolvoorraad op een slag koop, oorweeg dit om die aankope deur die jaar te versprei. Nie net sal dit ouers deur die moeilike Januariemaand help kom nie; dit gee hulle ook die geleentheid om heeljaar van spesiale aanbiedings gebruik te maak.

“Aanlyn platforms het gewoonlik ’n wye verskeidenheid items, soos skryfbehoeftes, waar jy die kostedoeltreffendste opsies kan kies,” sê Eunice. “Aanlyn koop keer ook dat jy impulsief koop, want dit is makliker om by ’n lys te hou.”

Lees ook: Terug skool toe binne begroting

Moenie van belonings en koopbewyse vergeet nie

Dis die volmaakte tyd om enige beloningsprogramme waaraan jy behoort, ten beste te benut.

Gebruik beloningsprogramme om afslagbewyse vir verskeie kleinhandelaars te koop. Anders kan jy ongebruikte geskenkbewyse wat in die huis rondlê, gebruik om jou besteding aan skoolvoorraad te besnoei.

Beplan vir die res van die jaar

Vra die skoolkalender en begin nou al begroot om uitgawes op die nippertjie te voorkom.

“Beplan vir bykomende uitgawes in die sportseisoen, skooltoere en uitgawes op skoolaktiwiteite.

Besluit op grond hiervan op ’n bedrag wat aan die begin van elke maand opsygesit kan word as ’n gereelde oordrag na jou spaarrekening. Buiten dat jy gemoedsrus sal hê dat geld beskikbaar is, sal jou geld ook groei danksy saamgestelde rente.

“Daar is geen rede om onverhoeds betrap te word deur uitgawes wat klein lyk vergeleke met groot uitgawes, soos skoolgeld, nie. ’n Bietjie begroot en slim spaartegnieke kan baie help,” sê Eunice.

Bron: Fin24