Ons almal weet geldelike probleme kan kwaai emosionele spanning meebring. Volg hierdie wenke om jou plastiekgeld minder in te span.

  • Verminder die aantal kredietkaarte wat jy by jou het. As jy kan, betaal ekstra geld in een kaart tot jou skuld daarop gedelg is. Begin dan om daardie ekstra bedrag in ’n ander kaart te betaal tot dit ook afbetaal is.
  • Moet nooit een kredietkaart gebruik om ’n ander mee te betaal nie.
  • Moet nooit kos of ander noodsaaklikhede op krediet koop nie.
  • Moenie jou kredietkaart gebruik tensy jy in staat is om elke maand die minimum bedrag daarop te betaal nie.
  • Betaal altyd elke maand die minimum bedrag op jou kredietkaarte.
  • Betaal liewer met jou debietkaart of kontant as om ’n kredietkaart te gebruik.
  • Stel ’n maandelikse begroting op en hou daarby. Jou uitgawes mag nooit groter as jou inkomste wees nie.
  • Bly op hoogte van jou uitgawes deur kwitansies te bêre en jou uitgawes op te tel.
  • Moenie ’n hoër kredietlimiet op jou kredietkaart aanvaar wanneer jou bank dit aanbied nie. Ekstra beskikbare krediet sal jou in die versoeking lei om meer geld uit te gee, wat jy dalk nie sal kan terugbetaal nie.
  • Moenie winkelkaarte of -rekenings oopmaak nie. As jy winkelkaarte het, betaal altyd minstens die minimum bedrag daarop en werk ’n afbetalingsplan uit: betaal elke maand ekstra sodat jy die skuld binne ses maande kan delg.
  • As jy iets duur wil koop, spaar liewer elke maand tot jy genoeg geld het, pleks dat jy dit op jou kredietkaart of winkelrekening koop.

Dis belangrik om te onthou dat krediteure se gewilligheid om jou krediet te gee, geen verband hou met jou vermoë om dit te betaal nie. Die geld wat jy skuld, moet terugbetaal word. Moet nooit meer koop as wat jy kan bekostig nie.

Hou hierdie wenke in gedagte wanneer jy oor die Kerstyd in die versoeking kom om baie geld uit te gee, en geniet ’n kommerlose feestyd.

-Faiza Mallick

Bron: 1st for Women