Jy kan dit skaars glo, maar ons is al amper weer in die pylvak van 2016.

Die koms van die lente het ons almal ietwat opgebeur, “maar dit is ook nou die beste tyd om vir einde vanjaar te begin beplan”, benadruk Eunice Sibiya, hoof van FNB se verbruikersinligting-afdeling.

“Met voldoende vroegtydige beplanning sal jy die feestyd oorleef sonder die stres wat ekstra skuld meebring.”

Die meeste mense bestee nou maar eenmaal te veel in die feestyd, en hulle kan die gevolge nog tot diep in die nuwe jaar dra.

Lees ook: Eet maklik op ’n begroting

“Neem dus vanjaar ’n wilsbesluit om betyds jou geldsake agtermekaar te kry sodat jy die volgende paar maande sonder geldsorge kan geniet,” sê Eunice.

Stel eers vas wat jy laas jaar uitgegee het

Suid-Afrikaners is omtrent elke jaar ewe verbaas oor hoeveel hulle in die vakansietyd uitgegee het. Baie sit die pot ver mis met wat hulle dink hulle gaan bestee.

FNB se kredietaankope-afdeling ervaar byvoorbeeld gewoonlik ’n styging van 30 persent in besteding in die Desember-tydperk.

“Maar vanjaar, voordat die pret- en partytjiegees posvat, kan jy gerus na jou bankstate van laas jaar gaan kyk,” sê Eunice.

Omdat jou transaksiegeskiedenis onmiddellik digitaal aanlyn beskikbaar is, is dié soort inkopie-introspeksie deesdae uiteraard veel makliker.

“Kyk baie aandagtig deur jou besteding vir dié periode,” sê Eunice. “Tel al die besteding bymekaar, insluitend jou kredietkaart en tjekkaart en enige kontant wat jy onttrek het.”

Dit behoort jou dan ’n geheelbeeld te gee van jou besteding in die vorige feestyd. Jy kan ook jou state vóór Desember bekyk as jy dalk ’n vakansie bespreek en vroeër daarvoor betaal het.

Lees ook: Spaar so geld

Stel ’n plan saam

“Noudat jy bewus is van die omvang van jou besteding, moet jy ’n aksieplan daar stel wat sal keer dat jy dieselfde foute begaan,” stel Eunice voor.

Stel ’n begroting op; dit kan wel moelik wees omdat daar dalk vanjaar bloot nie genoeg geld vir alles is nie. “Maar met ’n plan kan jy ten minste vroegtydig ingeligte besluite neem.”

Sit van nou af geld weg

Met minder as vier maande oor voor Nuwejaar, behoort jou plan in te sluit dat jy elke maand geld as ’n soort neseier wegsit om jou deur die feestyd te help. Selfs ’n klein bedrag, ’n paar honderd rand, sal goed te pas kom.

“Jou finansies knyp dalk, maar probeer sover moontlik om te besnoei. Dink deurentyd aan die einddoel – ’n lekkerder feestyd met minder geldstres saam met familie en vriende.”

Dit kos spanwerk

Goeie beplanning verg die insette en samewerking van jou gesin. “Praat openhartig met jou gesinslede en enigiemand anders wat jy by jou geldsake moet betrek. As julle saam besluite neem en ’n gemeenskaplike doelwit het – soos ’n lekker vakansie einde vanjaar – sal almal meer geneë wees om daardie doel te help bereik.”