Die meeste van ons het dit al ervaar, of dit nou ’n boelie in die span of ’n passief-aggressiewe persoon is.

Albei is moeilik om te hanteer, maar as jy nie werk daarvan maak nie, gaan jy op die ou end die werk begin verpes waarop jy eens versot was. Pleks van skree op jou kollega, hoe kan jy verhoed dat hul gedrag handuit ruk?

Eerstens moet jy besef, selfs al laat stilswye jou na ’n redelike mens lyk, bewys jy jou nie ’n guns nie. Jou kollega sal nie ’n benul hê oor jou frustrasie as jy nie iets sê nie. Maar tel jou woorde; moenie beskuldigings rondgooi nie en verduidelik kalm watter uitwerking hul gedrag op jou het. Dis ’n goeie idee om jou sin met “ek voel . . . ” te begin; feite kan bevraagteken word, maar nie emosies nie.

Hou ook in gedagte dat jou kollega dalk nie al oorsaak is nie. Ja, dis irriterend wanneer hulle foute in jou werk aan die baas uitwys, maar is dit regtig hoekom jy kwaad is? Of is dit omdat jy weet dit was ’n simpel fout en verneder voel?

Dis moeilik, maar ignoreer irriterende aanmerkings. Hoe meer jy toelaat dat dit jou ontstel, hoe erger sal jy voel. Daar is ’n groot verskil tussen stilletjies kla oor hoe kwaad iemand jou maak, en wonder wat hulle so laat optree. Eersgenoemde lei tot frustrasie; laasgenoemde sal jou dit help oorkom.

Beskou jou werk as ’n keuse, pleks van ’n plig. ’n Maklike manier is om aan iets te dink waarvoor jy wil spaar, of dit ’n kledingstuk, toestel of iets groots is, soos ’n vakansie. Wanneer dit dan sleg gaan, herinner jou daaraan dat jy gekies het om te kom werk sodat jy jou met daardie luukse kan bederf.

Dis makliker om te hanteer as die gedagte dat jy heeldag moet luister na hoe jou kollega jou slegmaak.  As jy mooi daaroor dink, is jou werk immers ’n keuse – maar as jy glad nie die probleme in die span kan oorkom nie, is dit dalk tyd om ander werk te soek.

© Cover Media