[caption id="attachment_139997" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Luidens die webwerf Trading Economics het Suid-Afrika se werkloosheidskoers effens afgeneem na 26,6 persent in Junie vanjaar. Dit is gegrond op Statistiek SA se syfers. Verlede Junie was die koers 27,7 persent. Tussen 2000 en 2016 was die werkloosheidsyfer gemiddeld 25,31 persent.

Uit onlangse reaksies op Huisgenoot se Facebook-blad is dit duidelik mense is bekommerd oor hul geliefdes wat werkloos is.

Elizabeth Mamacos, inhoudshoof by Careers24, sê 'n goeie CV, wat bygewerk is, is belangrik.

“Dit moet omvattend wees, maar nie te lank nie. Hoewel die gemiddeld twee bladsye is, werk CV's van drie of vier bladsye ook.” Sy sê hoewel almal sê twee bladsye is voldoende, gebeur dit dat heelwat inligting uitgelaat word. “Terugvoer van werwingsmaatskappye dui aan hulle wil langer CV’s hê,” sê sy.

Volgens Elizabeth is dit belangrik dat ervare mense hul ervaring noem. “Begin met jou huidige of laaste posisie en werk terug.”

Sy sê werksoekers moet ook nie jare uitlaat nie. “As jy byvoorbeeld 10 jaar lank 'n kelnerin was, moet jy dit nie bloot uitlaat nie. Noem dit.”

'n Dekbrief is ook belangrik. “Hou dit kort en som jou belangstelling op in die pos waarvoor jy aansoek doen.” Noem ook die pos en naam van die maatskappy waarby jy aansoek doen in die dekbrief. “Skryf in 'n paar sinne jy ken die maatskappy en hoekom jy graag daar wil werk.”

Sy waarsku dat die inligting nie te lank moet wees nie.

Rig die brief aan mnr. of mev. of skryf 'n algemene hoof soos “Wie dit mag aangaan". Dit is nie noodwendig net 'n man wat die CV gaan ontvang nie. Sy sê as jy die naam het van die mens wat die CV gaan ontvang, moet jy dit gebruik.

Sy raai werksoekers aan om hul CV’s op die werksoekersbord op webtuistes te laai en dit gereeld by te werk.

“Werk ook jou aanlyn profiele gereeld by.” Dit is luidens Elizabeth belangrik dat werwingsagentskappe weet jy soek aktief werk.

Sy stel ook voor jy bring die verstelling aan wat jou laat weet wanneer nuwe poste op die webtuiste beskikbaar raak.

Elizabeth sê aan die begin van die jaar is meer poste beskikbaar. Maatskappye skaal af op aanstellings aan die einde van die jaar en die vakansieseisoen en begin weer aan die begin van die jaar adverteer. Dit beteken nie werksoekers moet moed opgee nie. Daar is steeds opsies en beroepslui moet aanhou soek vir posisies en aansoek doen.

“Die nuwe jaar bring gewoonlik 'n verhoging in geadverteerde poste en nuwe geleenthede, dus is daar 'n beter kans om in Januarie of Februarie werk te kry as in Desember,” sê sy.

Wanneer moet 'n mens aanhou en wanneer raak opvolgwerk en oproepe opdringerig?

Elizabeth sê dit gaan oor die bou van verhoudings en nie oor opdringerig wees nie.

Sy sê werksoekers kan maatskappye self nader om uit te vind of hulle jou dienste verlang. Afhangend van of hulle iemand soek, kan dit vrugte afwerp.

'n Ander voorstel is om maatskappye vir wie jy graag wil werk, in die sosiale media te volg. “Om uit te reik om jou droom te verwesenlik en werkgeleenthede en beskikbaarheid te bespreek, is aanvaarbaar. Jy kan selfs vra wanneer jy weer in kontak kan wees, maar om 'n maatskappy te teister, gaan nie vir jou deure oopmaak nie.”

Sy stel voor jy reik uit na bestuurders wat mense aanstel of mensehulpbronne-bestuurders en hulle nooi vir 'n informele gesprek oor hul onderneming en aanstellingsbehoeftes.

Wanneer jy vir 'n onderhoud genooi word, bly professioneel, ongeag hoe lank jy uit die werkmark of werkloos was. Wees eerlik, maar moenie vir die onderhoudvoerder vertel hoe ver jy agter is op jou huisverband of hoe desperaat jy vir enige moontlike werk is nie.

“Bly professioneel, vermy persoonlike onderwerpe en maak seker die onderhoudvoerder weet jy is opgewonde, beskik oor die vaardighede en dat jy 'n aanwins vir hul span sal wees.