Die winter is hier en daarmee saam gaan ekstra lae klere, soos wolserpe, warm kouse en dik baadjies en jasse – en baie van die klere is deesdae nogal duur.

Wat sal gebeur as by jou ingebreek word, ’n brand breek in jou huis uit of hy raak oorstroom en al jou klere is verwoes?

Het jy die regte versekeringsdekking om die storm te oorleef?

Klere word nou wel ingesluit by die versekering van die inhoud van jou huis en dit moet ingesluit wees by die algehele dekking, maar weet jy wat dit werklik sou kos om al jou winterklere te vervang? Jy het heel moontlik ’n beter idee van wat dit sou kos om jou platskermtelevisiestel te vervang.

Lees ook: Vyf dinge waarvoor mense nie begroot nie omdat hulle vergeet

As jy vandag by die meeste klerewinkels ingaan, selfs dié wat goedkoper klere verkoop, kan jy verwag om ’n klein fortuin te betaal vir kledingstukke soos winterjasse, leerbaadjies, woltruie en stewels. Afhangend van jou smaak, kan ’n winterjas waarvan jy hou, dieselfde kos as ’n naweek weg vir twee mense.

Neem jou hele versameling klere in oorweging

Die meeste mense besit meer as een winterjas. Jy het moontlik ten minste ’n warm jas en ’n reënjas. Baie mense het meer jasse, aangesien hulle dikwels geneig is om elke winter ’n nuwe jas of baadjie by te voeg en sodoende ’n versameling op te bou.

Sommige van jou winterklere kan dus ’n paar jaar oud wees. En hou in gedagte dat die vervanging daarvan jou vandag baie meer gaan kos en dit is die bedrag waarvoor jy hulle moet verseker.

In hierdie moeilike ekonomiese tye styg die prys van alles, dus gaan die prys van klere eenvoudig aanhou styg, veral aangesien baie klere ingevoer word. Wees bewus van die feit dat ’n paar jeans wat jy ses maande gelede gekoop het, moontlik vandag heelwat duurder gaan wees.

Hoeveel geld gaan jy dus nodig hê om weer jou klerevoorraad op te bou indien alles in jou klerekas vernietig is? Verbeel jou jy moet na jou inkopiesentrum gaan en alles van nuuts af koop. Jy moet bereken hoeveel dit werklik sou kos.

Lees ook: Kry só daardie salarisverhoging wat jy al lank voor wens

Kom ons beskou dit professioneel. Vroue sou byvoorbeeld warm broekiekouse, ’n romp of broekpak met ’n bloes, miskien ’n frokkie om onder die bloes aan te trek vir ’n ekstra lagie en ’n dik jas om alles af te rond, nodig hê.

Voeg nou skoene en ’n mooi halssnoer met bypassende oorbelle – en natuurlik ’n spatsel parfuum – daarby. Mans sou in dieselfde posisie wees met ’n pak klere en bykomstighede, miskien met ’n duur gordel of ’n geliefkoosde das daarby.

Skoene is ook ’n duur oorweging – van jou pantoffels tot ontwerperstewels. Dit is duur om te vervang.

Spesifiseer waardevolle artikels

Jy sal nou wel nie spesifiseer dat jy hope serpe en handskoene in jou klerekas het, of dat jy tien bostukke van dieselfde snit, maar in verskillende kleure, en drie pare Italiaanse stewels besit nie, maar daar is sekere artikels wat jy tog kan en behoort te spesifiseer.

Jy het miskien ’n pragtige leerjas of ’n spesiale handsak tydens jou laaste oorsese reis gekoop. Indien dit baie duur was, behoort jy dit te spesifiseer.

Wat ’n handsak betref, sal die vervanging van net die sak nie naastenby die goed wat binne-in was, dek nie. Maak dus seker jou grimeermiddels, ontwerpersonbril en splinternuwe beursie word by die algehele vervangingswaarde gevoeg.