Trou, en die beplanning van die hele affêre, is ’n opwindende tyd in jou lewe, maar troues kan ook verskriklik duur wees. Beplan dus jou geldsake deeglik en maak seker dat jy en jou maat die volmaakte troue het, sonder om jare daarna nog daaraan af te betaal.

“ ’n Pragtige troue is belangrik, want die herinneringe gaan ’n leeftyd hou. Die pas verloofde paartjie moet egter oppas dat hulle nie hulself bankrot maak nie. Dit is verstommend hoe ’n groot en positiewe uitwerking ordentlike beplanning op jou troubegroting kan hê,” sê Eunice Sibiya, hoof van verbruikersopleiding by FNB.

Sibiya verduidelik vier eenvoudige stappe om jou bruilof binne jou begroting te hou:

Bepaal jou begroting en doen navorsing:

Groot of klein, troues verg ’n klomp tyd, denke en aandag aan detail, en, die heel belangrikste, ’n waterdigte begroting.

Sodra julle met die beplanning begin, moet julle gesels oor finansies. Gaan jy en jou maat vir die hele troue betaal, gaan familielede help en, indien wel, hoeveel kan hulle bekostig?

“Al hierdie gesprekke moet so gou moontlik plaasvind sodat julle jul begroting kan bepaal,” sê Sibiya.

Sodra julle uitsluitsel daaroor gekry het, kan julle met die navorsing en beplanning begin. ’n Noodbedrag waartoe julle toegang het, is goed ingeval jul uitgawes jul aanvanklike begroting oorskry.

Besluit op drie groot dinge waaraan julle geld gaan bestee, en hou daarby:

Jy moet van die begin af bepaal wat vir jou as bruid belangrik is, maar moet ook nie jou begroting oorskry en jou huwelik begin met ’n bankbalans wat in die rooi is nie.

“Alle bruide verskil. Een bruid is dalk nie gepla oor ’n spoggerige trourok nie, maar kan moontlik ’n uiters glansryke plek vir die onthaal verkies, terwyl ’n ander een oordadige dekor wil hê. Die belangrikste is dat julle jul begroting moet bepaal en instem tot die bedrag wat julle kan bekostig sonder om julself (of jul borge!) bankrot te maak,” sê Sibiya.

Kyk altyd goed rond vir verskaffers:

Jou verskaffers kan jou troue maak of breek, dus is dit uiters belangrik om jou huiswerk te doen. ’n Professionele trou-onthaalbeplanner, byvoorbeeld, kan van jou troue ’n wêreldklasgeleentheid maak, maar as jy self die troue wil beplan, sal jy moet navorsing doen oor verskaffers, met hulle vergader en pryse vergelyk.

“As jy nie ’n bruilofbeplanner gebruik nie, moet jy baie versigtig wees wat pryse betref, want daar is ander faktore wat jy moet oorweeg wanneer jy ’n diensverskaffer aanstel, soos of hulle genoeg ondervinding het, of jy goeie waarde vir jou geld sal kry en wat alles ingesluit is by die pakket waarvoor jy betaal.” reken Sibiya.

Benut jou netwerk:

Kyk jou vriendekring deeglik deur en kyk hoe jy hul vaardighede of hul kontakte kan inspan. Dienste soos fotografie, uitnodigings, die bruid se grimering, die platejoggie en vermaak kan aan jou vriende toegewys word.

Dit is makliker om hierdie mense in jou lewe te oorreed om hul dienste teen ’n afslagprys te verskaf of as trougeskenk te gee.

“Moenie bang wees om hulp te vra by jou netwerk nie. Jy sal verbaas wees oor hoeveel mense bereid sal wees om op jou spesiale dag te help en hul vaardighede tot jou beskikking te stel,” sê Sibiya.

As jy jou troue op ’n gestruktureerde manier reël en beplan, sal dit jou geweldig baie help bespaar.

Een manier waarop jy kan onderhandel oor afslag en so geld bespaar, is om georganiseerd te wees en dinge so vroegtydig moontlik te bespreek.

“Jou troudag sal net paar uur duur, maar met aandag aan die fyner besonderhede, gaan dit vir seker een van die beste dae in jou lewe wees. Wat nog belangriker is, is om jou huwelik op ’n finansieel stabiele voet te begin, want die laaste ding wat jy van die dag wil onthou, is dat jy jou in die skuld gesteek het,” sluit Sibiya af.

Ook op Huisgenoot.com

Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou