Niemand wil daaraan dink dat hulle eendag weens ’n ongeluk of siekte ongeskik vir werk kan wees nie, maar dis ’n werklikheid waarop jy jou moet voorberei, veral as jy vir jouself of teen kommissie werk.

Byna 2 miljoen mense in Suid-Afrika wat vir hulself of teen kommissie werk is gevaarlik onderverseker wat ongeskiktheid betref, sê Brad Toerien, die hoof van die inkomstebeskermingspesialis FMI.

Hy noem hierdie tekort “werklik skrikwekkend, gegewe dat enige soort ongeluk of ernstige siekte kontantvloei drasties vir hierdie mense kan belemmer en ’n groot lewenskrisis kan veroorsaak as daar nie behoorlike dekking is nie”.

Te veel mense wat vir hulself werk aanvaar eenvoudig dat ongeskiktheid “nie met my kan gebeur nie” en besef ook nie dat tydelike ongeskiktheid, soos ’n gebreekte arm of ernstige griep, beduidende geldelike gevolge kan hê nie, voeg hy by.

Maak seker jy is voldoende gedek deur hierdie algemene foute te vermy:

  • Jy neem te veel lewensdekking uit, maar het nie genoeg inkomstebeskerming nie.
  • Jy neem net dekking vir permanente ongeskiktheid uit en nie vir die meer algemene moontlikheid van tydelike ongeskiktheid nie. Tydelike ongeskiktheid kan ’n groot impak hê op jou vermoë om ’n inkomste te verdien.
  • Jy kies ’n groot enkelbedrag-uitbetaling in die geval van permanente ongeskiktheid, eerder as ’n kombinasie van gewaarborgde maandelikse uitbetalings plus ’n enkelbedrag-uitbetaling.
  • Jy bereken nie die bedrag behoorlik wat jy werklik nodig hê in die geval van ongeskiktheid nie.

BRON: fmi.co.za