In ons praktyk ag ons ’n weldeurdagte begroting wat jy pligsgetrou navolg as die hoeksteen vir alle verdere stappe tot welvaart. Dié gebruik is ook een van die beste lewensvaardighede wat jy jou kinders kan leer. Een van die maklikste maniere om dit te doen, én op die koop toe jou geldsake beter te bestuur, is met die hulp van ’n gesinsbegroting.

’n Gesinsbegroting is in wese ’n begroting wat al die inkomste en uitgawes van die gesin saamvat. Hier is ’n paar grondbeginsels om jou te help:

Stap 1 – Almal span saam

’n Mens is dikwels bekommerd dat as jy jou kinders inlig oor hoeveel geld jy verdien, en spandeer, hulle dit aan die juffrou of hul beste vriend se ouers sal gaan uitlap. In my ervaring is dit ’n klein risiko wat maklik bestuur kan word. Boonop word dit oorskadu deur die voordele om jou kinders deel te maak van die geldbestuurproses voor hulle hul eie salaristjek verdien.

Maak ’n noukeurige lys van inkomstes en uitgawes en gee elke rand ’n doel. Wanneer jy jou geldsake met jou kinders bespreek, is dit beter om, soos hierbo genoem, eerder meer inligting te gee as te min.

Maak dié proses selfs meer leersaam deur met jou kinders en gade te debatteer oor die moontlike gebruike van die geld. Dink saam aan nuwe maniere om geld te spaar, nóg geld in te win en hoe om uitgawes te rangeer van die belangrikste tot minder belangrik.

Stap 2 – Stel doelwitte

Die motiveringspreker Zig Ziglar het altyd gesê: “As jy na niks streef nie, gaan jy dit elke keer behaal.”

Wanneer jy en jou gesin in stap 1 saam nadink oor die moontlike gebruike van jou geld, kan julle ook die geleentheid gebruik om aan die toekoms te dink. Een van jou belangrikste doelwitte is om jou skuld af te betaal, maar jy kan ook hier aan ander doelwitte dink, soos jul seevakansie in Desember, die kinders se studie, elke kind se ideale verjaardaggeskenk en andere.

Maak seker jy stel gesinsdoelwitte en dat jy elkeen aanmoedig om individuele doelwitte te stel, en hersien dit gereeld tydens jul maandelikse begrotingsbeplanning.

Stap 3 – Hou boek, wees trots

Dit klink eenvoudig, maar word dikwels nagelaat: Jou begroting gaan net werk indien julle daarby hou.

Oorweeg dit om weekliks as gesin jul begroting na te gaan. Het jul dalk te veel op iets uitgegee? Waar gaan julle nou geldjies afknyp om seker te maak jul begroting klop? Hoe lyk die skulddoelwitte? Het jul dalk een of ander uitgawe onderskat?

Waar julle as gesin of een van die gesinslede een van hul doelwitte bereik het, of hul begroting laat klop het, vier dit en wees trots daarop. Hierdie positiewe versterking is broodnodige aanmoediging om jou kinders, en jouself, getrou aan jou begroting te hou.

Stap 4 – Stel ’n voorbeeld

Onthou, jou dade weeg swaarder as jou woorde. Moet dus nie jou harde werk in stap 1 tot 3 deur jou persoonlike gedrag ongedaan maak nie.

’n Mens is geneig om soms te veel te kla oor geld of te maklik jou kredietkaart uit te pluk vir impulskopies. Dit kan die indruk skep dat jou begroting nie belangrik is of die vermoë het om jou uit ’n verknorsing te lig nie. Let dus op jou woorde en maak seker jy hou by jou begroting.

Met hierdie relatief eenvoudige stappe kan jy jouself en jou kroos red van baie onnodige skuld en toekomstige geldprobleme. En as jy meer wil uitvind oor hoe om ’n begroting op te stel, kan jy gerus ons gratis sjabloon aflaai by www.ascor.co.za/downloads.

Wouter Fourie (CFP) is ’n finansiële beplanner met twee dekades se ervaring en nagraadse kwalifikasies in belasting, boedelbeplanning, beleggings en finansiële beplanning. Hy is direkteur van Ascor Independent Wealth Managers, wat aangewys is as die beste onafhanklike finansiëlebeplanningsfirma in 2016. Hy is ook ’n direkteur van die Finansiëlebeplanningsinstituut van Suid Afrika (FPI), en is verkies as die FPI se Finansiële Beplanner van die Jaar in 2015/’16.