Worried Young Man with Debt and Bills

Baie van ons voel die een of ander tyd ons weet net nie hoe ons moet maak met ons geldnood nie. Dis ’n las wat swaar op ons skouers rus; iets wat ons elke dag saam met ons dra.

Hoeveel van ons glimlag en gesels met ons kollegas by die werk – terwyl ons net in trane wil uitbars omdat ons dink daar is nie raad vir ons skuld nie?

Hoeveel betaal met ’n glimlag vir ons kinders se skooluitstappies en -projekte, terwyl ons goed weet ons het nie daarvoor begroot nie en dat dit ons in die skuld dompel?

Hoeveel van ons kan eenvoudig nie met ons salaris uitkom nie? Maak nie saak hoe ons die begroting duikklop nie, dit klop net nie. Hoeveel van ons wens daar was ’n goeie fee met ’n towerstaf wat al ons skuld net kon laat verdwyn? Wel, ek kan nie jou fee wees nie, maar ek het ’n lys opgestel van al die vernaamste moontlikhede vir skuldvermindering. Dalk werk hulle vir jou; dalk nie. Maar ek dink selfs net ’n bewustheid van die moontlikhede, kan die stres van slegte skuld verminder. Administrasie

  • Dis ’n baie uitgediende soort skuldverligting en net beskikbaar vir verbruikers wie se onversekerde skuld R50 000 of minder beloop.
  • Dit word nie voldoende deur die wet of enige bestuursliggaam gereguleer nie; daarom gaan dit gepaard met gans te veel wangedrag, onbekwaamheid en selfs diefstal.
  • ’n Verbruiker word onder administrasie geplaas deur by ’n hof aansoek te doen, en kan net van administrasie verwyder word deur by dieselfde hof daarom aansoek te doen.
  • Dit word op jou kredietrekord aangeteken tot al jou skuld vereffen is.
  • Die koste is gewoonlik hemelhoog.
  • Jy het nie toegang tot nog krediet nie.
Sekwestrasie Sekwestrasie is ’n gewone hooggeregshofaansoek ingevolge die Insolvensiewet. Iemand wat kan bewys dat sy skuld sy bates oorskry, kan hierom aansoek doen. Die kwalifiserende kriteria is eenvoudig dat jy moet kan bewys dat daar vir die krediteure die waarde van 20 sent sal wees vir elke rand wat jy skuld.
  • Vrywillige sekwestrasie sal op jou kredietrekord aangedui word totdat jy om ’n rehabilitasiebevel aansoek doen (gewoonlik ná drie tot 10 jaar).
  • Jy sal nie toegang tot nog krediet hê nie.
  • Al jou bates sal verkoop moet word. 
Skuldberading

  • ’n Skuldberader stel ’n begroting op en bereken hoeveel jy aan jou kredietverskaffers kan betaal. Hiervolgens word ’n betaalplan uitgewerk.
  • Skuldbetalings word verlaag deur die kredietverskaffers te vra om die afbetalingstydperke te verleng en die rentekoerse te verlaag.
  • Krediteure en skuldinvorderaars sal jou eindelik ophou pla. Jou skuldberader sal self met hulle onderhandel.
  • Jy maak net een maandelikse betaling aan ’n agentskap wat die betalings onder al jou krediteure versprei.
  • Jou skuldberader sal met jou krediteure onderhandel om laer maandelikse paaiemente.
  • Deur laer maandelikse paaiemente te betaal, sal jy meer geld hê vir daaglikse noodsaaklikhede soos kos, krag en vervoer.
  • Sodra ’n hofbevel toegestaan is en jy aanhou om die verlangde betalings te maak, sal geen geregtelike optrede teen jou gemaak word nie.
  • Jy sal nie toegang hê tot nog krediet tot jou bestaande skuld gedelg is nie.
  • Anders as met administrasie, is die skuldberading uiteengesit in die Nasionale Kredietwet en word gereguleer deur die Nasionale Kredietreguleerder.
Skuldkonsolidering Baie verbruikers beskou dit as skuldverligting, maar eintlik betaal verbruikers geen skuld af nie. Hulle vervang net hul bestaande skuld met ander skuld. Dit kan voordele inhou indien die heffings, rente en terugbetalings laag is, maar dikwels betaal verbruikers meer as wat hulle verwag het. Vrywillige reëlings

Jy kan ook vrywillige reëlings met jou krediteure tref vir laer maandelikse terugbetalings oor ’n sekere tydperk. Maar dis moeilik; jy kan selfs sukkel net om deur te kom na die inbelsentrum en die agent met wie jy wil praat. Dis gek dat jy juis in die tyd dat jy reëlings moet tref vir laer maandelikse betalings omdat jy nie geld het nie en nie meer kan betaal nie, honderde rande aan lugtyd moet bestee of selfs tyd by die werk moet afneem om die reëlings te tref.

Dit lyk dalk nie altyd so nie, maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Hopelik pas een van die bogenoemde skuldverligtingsopsies jou en jou huishouding en kan jy ’n mate van geldelike en emosionele vrede vind.

Moeshfieka BothaDeur Moeshfieka Botha

Moeshfieka Botha is die kommunikasiebestuurder van die nasionale skuldberadingsfirma Credit Matters en die skuld- en verbruikerskenner vir verskeie organisasies. Vir nog inligting besoek www.creditmatters.co.za of bel 086-111-6197.