. Maar ons welstand kan daaronder ly as ons aan gemakskos begin weglê. Hier is ’n paar wenke oor hoe om steeds gesond te eet terwyl jy jou sente tel.

Koop seisoenprodukte: Een manier om vrugte en groente goedkoper te kry, is om te volg wat in die seisoen beskikbaar is. Die somer is byvoorbeeld ’n goeie tyd om plaaslik verboude aarbeie te koop teenoor dié wat Desember van oorsee af ingevoer word. Groente soos beet, kool, wortels en seldery is heeljaar verkrygbaar; daarom kan jy dit altyd by jou dieet insluit. Kosse soos aspersies is eerder lentegroente, terwyl eiervrug in die laatsomer die volopste is.

Doen dit self: Vooraf gesnyde groente, skoongemaakte hoenderborsies en klaarbereide kosse bied gemak teen ’n prys. Kap, sny en berei eerder self alles by die huis en skakel so onnodige uitgawes uit.

Maak ’n lys: Supermarkte plaas hul aanbiedinge op ’n slim manier op oogvlak en aan die einde van gange om jou te probeer oorreed om goed te koop wat jy nie regtig nodig het nie. Maar as jy van jou maaltye vooruit beplan en dan met ’n lys winkel toe gaan, is die kans veel groter dat jy net die nodigste goed sal huis toe neem.

Moenie handelsmerkprodukte koop nie: Kies waar moontlik generiese produkte pleks van handelsmerk-weergawes. Jy kry dikwels dieselfde produk teen ’n veel laer prys.

Vries kosse: As jy vars produkte koop, maar nie dink jy sal alles opgebruik voor dit begin sleg raak nie, moet jy dit vries. Die meeste groentes kan gevries en later gebruik word. En as jy ’n oorvloed kos maak, bêre porsies daarvan sodat jy gesonder middagetes het en nie in die versoeking kom om na die naaste kafee of kosstalletjie te draf nie.

© Cover Media