Die kort antwoord is ja. Om uit te vind by wie jy vir die skade weens ’n slaggat of padwerke kan eis, moet jy eers uitvind of die voorval op ’n nasionale of munisipale pad plaasgevind het. Nasionale paaie word gewoonlik as N1, N2, ensovoorts, geïdentifiseer. Hierdie paaie is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), terwyl munisipale paaie val onder die gesag van die verskillende munisipale distrikte, of die departement van openbare werke, waar die spesifieke pad geleë is. Sanral sluit kontrakte met maatskappye wat paaie onderhou, en hulle moet bewys lewer dat hulle ’n geldige versekeringspolis het om eise van padgebruikers te dek.

Eise vir skade weens slaggate of padwerke op nasionale paaie word dus aan Sanral gerig, en van daar word dit na die spesifieke kontrakteur op daardie stuk pad gekanaliseer. Nes met enige ander motorversekeringseis moet Sanral eers bevestig dat die skade deur padwerke of ’n slaggat aangerig is voor die eis verwerk kan word. As die motor op ’n munisipale pad beskadig is, moet die padgebruiker daardie spesifieke munisipale owerheid of die departement van openbare werke kontak en by hulle uitvind watter dokumentasie om in te vul, en by wie die eis ingedien moet word. Inligting wat nodig sal wees

  • Jou ID
  • Jou rybewys
  • Die registrasiebesonderhede van jou voertuig
  • Drie geskrewe kwotasies vir die herstelwerk
  • ’n Verklaring wat deur die eiser onderteken is
  • Die AA stel voor dat die eienaar van die voertuig ook bewys lewer met foto’s van die slaggat en die skade aan die voertuig.

Bron: Automobiel-Assosiasie