Die versekeringsbedryf bestee jaarliks miljoene rande aan waterskade wat deur geisers wat nie reg werk nie, veroorsaak word.

Die eise vir skade wat deur geisers veroorsaak word, neem in die winter toe want dan slyt dit meer.

Budget Insurance vra huiseienaars moet hierdie winter so ’n bietjie ekstra aandag aan hul geisers skenk, sodat dit die lae temperature kan verduur.

“ Geisers wat bars is gevaarlik, en ten einde rampspoedige gevolge te verhoed, is dit die moeite werd om ’n professionele mens te vra om ondersoek i te stel voor die weer regtig koud raak,” is die raad van Graham Craggs, woordvoerder van Budget Insurance.

Die geiser se tenk en sy komponente sit uit en krimp wanneer warm water gedurende normale gebruik daaruit getap word en koue water inloop.

Lees ook: Hierdie is die een item wat jy MOET verseker maar nooit doen nie

Die temperatuur van die koue water kan egter in die winter aansienlik daal. Die verskil in temperatuur tussen die koue water wat in die geiser inloop en die warm water wat uitloop, is aansienlik groter as in die somer. Dit verhoog die graad van uitsetting en inkrimping en kan tot metaalverswakking lei.

“Koue weer sal dus nie veroorsaak dat jou geiser bars nie, maar dit bars makliker in die koue weer indien dit oud is of die termostaat of kleppe foutief is,” sê Craggs.

Die lewensduur van geisers is gewoonlik vyf jaar en met verloop van tyd verweer dit. Volgens Craggs kan huiseienaars die lewensduur van hul geisers verleng indien hulle dit behoorlik in stand hou.

Die kenners stel voor geisers word elke drie jaar deur ’n gekwalifiseerde loodgieter nagegaan. Dit behels die dreinering van die silinder en nasien van die komponente, insluitend die anode, element en termostaat. Kalkaanpaksels en slyk moet uit die tenk en van die element af verwyder word en die hele stelsel moet ondersoek word vir lekplekke.

Lees ook: Vyf dinge waarvoor mense nie begroot nie omdat hulle vergeet

Dit is raadsaam om terselfdertyd ’n drupbak te installeer, indien daar nie reeds een onder die geiser is nie. Die afvoerpyp in die drupbak voer die meeste van die water weg indien die silinder sou bars en dit verminder die waterskade aan mure, matte en ander goed in die huis.

Die loodgieter behoort ook te kyk dat die temperatuur van die geiser se termostaat nie te hoog gestel is nie. Die aanbevole stelling is 60 °C. Dit is bekend dat geisers bars indien die termostaat verkeerd gestel of dit swak gereguleer is, aangesien dit die hittevlakke van die water in die geiser verkeerd sal beheer en moontlik kan veroorsaak dat dit bars as gevolg van die hoeveelheid stoom wat opbou.

“Die termostaat van jou geiser beheer die temperatuur van die water in die tenk en dit hou die water teen ’n konstante temperatuur; maak nie saak hoe sleg die weer buite is nie. Jou geiser moet soveel harder werk as dit koud is en jou huishouding se behoeftes ten opsigte van warm water verhoog word. Dit is een van die redes waarom die kragrekening van jou huishouding hoër is in die winter.

“Ten einde die las op jou geiser te verminder, moet jy die termostaat afdraai tot op 60 °C en ’n spesiale kombers om die geiser laat installeer ten einde hitteverlies te verminder. Dit sal help om jou geiser se kragverbruik, en eindelik jou kragrekening, te verlaag,” bevel Craggs aan.

Lees ook: Sit dit af, sit dit af . . . Só kan jy lag-lag krag én geld spaar!

Dit is wys om van tyd tot tyd jou geiser af te skakel, veral in die tye wanneer die vraag na krag hoog is, maar moet dit nie heeltemal koud laat word nie, aangesien hierdie bykomende inkrimping en uitsetting die lewensduur van jou geiser sal verkort en dit gaan ook meer elektrisiteit nodig hê om weer die water warm te maak.

“Voorsorg voorkom nasorg en ’n mens moet op die uitkyk wees vir die vroeë tekens dat die geiser besig is om onklaar te raak. As jy opmerk die water wat uit die geiser kom, is nie meer so warm soos gewoonlik nie, dat die waterdruk nie hoog genoeg is nie, dat daar te veel water of stoom by die warmwater-oorlooppyp op jou dak uitkom, dat daar vreemde gons-, sis- of kraakgeluide van die geiser se kant af kom, of as jy nat kolle naby die geiser opmerk, kan ’n ramp op jou wag en moet jy die geiser dadelik laat ondersoek,” sê Craggs.

Indien jou geiser bars, moet jy die elektrisiteit onmiddellik by die hoofskakelaar afskakel, die watertoevoer by die stopkraan toedraai en jou loodgieter en versekeraar bel.