Net toe ons begin hoop ons hoor nie weer ’n woord daaroor nie, bars die bom. Ons beleërde minister van finansies, wat al hoe lank kredietgraderingsagentskappe en beleggers probeer paai, moet nou in November in die hof verskyn.

Die klagte teen Pravin Gordhan word wyd as ’n klug bestempel, maar iemand wil blykbaar ’n punt bewys.

Maar hoe raak die Gordhan-sage die deursnee-verbruiker? En hoe kan die ekonomie en ons sakke verder deurloop as die staatskas se sleutel wel finaal uit Gordhan se beskermende hande gewring word?

Vir Dawie Roodt is die demokratiese beginsels wat hier op die spel is, selfs belangriker as moontlike ekonomiese gevolge, verneem ons van die Efficient Group-hoofekonoom. “In enige behoorlik funksionerende demokrasie het jy sekere instellings wat as wigte en teenwigte dien, soos ’n onafhanklike regbank, openbare beskermer en nasionale vervolgingsgesag (NVG).”

Maar almal besef nou al die NVG se vervolging van die minister van finansies het min uit te waai met ’n staatsinstelling wat goed funksioneer of gelykheid voor die wet, sê Dawie. “Almal weet van die politieke onderstromings hier en dat Jacob Zuma daaragter sit.” Dis baie duidelik dat ’n staatsinstelling hier vir persoonlike politieke gewin misbruik word, meen hy. Dit ondermyn ons demokrasie en dis juis die soort ding wat ’n vrye, gesonde landsekonomie nie wil hê nie.

Dit sal baie sleg wees vir ons demokrasie en ekonomie as die tesourie wel so gekaap en iemand op grond van ’n verbintenis met die president in Gordhan se plek aangestel word, sê Dawie. “Dan kan nog een van ons sleutelinstellings ondermyn word, en voortgegaan word met die stroping van die staat.” Dit kan ook beteken burgers sal tot groter mate uitgelewer wees aan die besluite van die ANC se leiersverkiesingskonferensie einde aanstaande jaar.

Gordhan se aanstelling het beslis ekonomiese stabiliteit herstel ná die “9/12”-debakel toe Zuma skielik Nhlanhla Nene met die plooibare Des van Rooyen vervang het, sê Ulrich Joubert, 'n vorige Sake24-ekonoom van die jaar, uit Johannesburg.

Zuma het Gordhan op aandrang van sommige swaargewigte in die ANC, sakesektor en vakbonde ontbied. Maar daarna het ons met elke gerug oor die minister se moontlike vervolging maar weer ’n verswakking in die rand en onstabiliteit in die finansiële markte gesien, sê hy. “En die jongste situasie is nou weer ’n aanslag op Gordhan as iemand wat stabiliteit in staatsfinansies wil bevorder deur onder meer die bekamping van korrupsie en vermorsing.”

Dit lyk asof sommige mense met gevestigde belange die veranderings wil keer wat Gordhan blykbaar beoog, meen Ulrich.

As die huidige situasie nie gou opgelos word nie en Gordhan word wel uitgewerk, kan die Suid-Afrikaanse ekonomie nog veel groter skade ly en verbruikers meer swaarkry, maan Ulrich en Dawie:

  • ’n Rommelgradering vir Suid-Afrika is stellig nou weer hoog op internasionale kredietgraderingsagentskappe se agenda; weens die voortslepende onsekerheid oor die sleutelpos van minister van finansies, en of ’n moontlike plaasvervanger se beleid wel broodnodige ekonomiese groei sal bewerkstellig.
  • Rommelstatus kan tot nog groter buitelandse kapitaal-uitvloei, ’n verdere verswakking in die rand, hoër inflasie en rentekoerse, nog swakker ekonomiese groei en groter armoede lei.
  • Vir die meeste verbruikers beteken ’n hoër rentekoers hulle sal meer betaal op huis- en motorlenings of watter skuld ook al.
  • Kos en ingevoerde goedere sal nog duurder raak.
  • Nie net buitelanders nie, maar ook plaaslike maatskappye sal huiwerig wees om hier te belê. Sakevertroue het juis onlangs ’n 30-jaar-laagtepunt bereik.
  • ’n Rommelgradering sal die staat se rentelas vergroot. Skulddiens-koste is reeds die staatsbesteding-element wat die vinnigste groei. Dit raak gewone verbruikers ook deurdat daar dan minder geld vir byvoorbeeld infrastruktuur, onderwys en gesondheidsorg sal wees.
  • Dit kan vorentoe nog heelwat moeiliker raak om met maatskaplike toelaes, waarop ’n derde van die bevolking reeds steun, vol te hou. Staatsfinansies sal immers onder nog groter druk wees terwyl al meer werkloses toelaes sal verlang.
  • Kommer oor die integriteit van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kan toeneem. Onder andere Gordhan self het onlangs gewonder hoe die huidige SAID-baas, Tom Moyane, sy adjudant, Jonas Makwakwa, ondanks beskuldigings van korrupsie en wanbestuur in sy pos kan laat aanbly. Die siening bestaan dat Moyane as ’n Zuma-lojalis heelwat met die veldtog teen Pravin en dié se voormalige SAID-werknemers te make het.
  • Die reeds beperkte aantal betalers kan vertroue in die belastingstelsel verloor. En ’n minder doeltreffende SAID en kleiner belastinginkomste beteken ook minder geld vir alle staatsverpligtings.
  • Hoër rentekoerse weens ’n kredietafgradering kan verbruikers baat wat reeds van ’n rente-inkomste leef. Maar as ál meer buitelandse beleggers uit ons aandelebeurs onttrek en aandeelpryse mettertyd daal, kan spaarders met blootstelling aan die aandelemark swaarkry. Só kan annuïteite en aftreefondsgroei ook daaronder ly.

Wat kan die deursnee-verbruiker nou doen?

Raak meer betrokke in burgerlike samelewingsprogramme en oefen jou politieke reg uit, reken Dawie. Laat jou streng lei deur jou risikoprofiel wanneer jy besluit waar jy wil belê. “Diversifiseer. In die algemeen moet mense sorg dat ’n deel van hul beleggingsportefeulje buitelandse blootstelling het.” En moenie oorhaastige besluite neem nie, sê Ulrich.

“Wag eers dat die stof ’n bietjie gaan lê en handhaaf intussen finansiële dissipline.”