8286036319_470276ae3b_o

Wie sou dit kon raai? In ’n nuwe studie is bevind om deur jou middagete te werk is minder spannend as om saam met jou kollegas te kuier.

Navorsers aan die Universiteit van Toronto se Rotman-bestuurskool het bevind om tyd deur te bring saam met mense by wie jy nie heeltemal gemaklik is nie, soos jou kollegas, kan jou meer gespanne en minder produktief maak.

Aan die ander kant is dit minder spannend om deur jou middagete te werk, maar net as dit jou eie besluit is. John Trougakos, ’n medeprofessor en die medeskrywer van die studie, sê die vryheid om te kies of jy deur jou middagete wil werk is ’n belangrike deel hiervan.

“Dat jy dit self besluit, werp ’n ander lig op wat ons altyd gedink het ’n goeie manier is om jou etensuur deur te bring,” sê hy.

As deel van die studie het navorsers administratiewe personeel aan ’n Amerikaanse universiteit oor tien dae uitgevra oor wat hulle in hul etensuur gedoen het. Hulle het toe met die deelnemers se kollegas gepraat om uit te vind hoe moeg die deelnemers aan die einde van elke dag was.

Die navorsers het bevind ’n gekuier saam met kollegas het meer uitputting veroorsaak. Aktiwiteite wat die deelnemer gekies het om te doen, het weer tot die minste moegheid gelei. Werkers wat gedwing is om deur die etensuur te werk was moeër as diegene wat self besluit het om dit te doen.

John sê om oor etenstye saam met jou kollegas te kuier kan spannend wees omdat gesprekke oor werk gaan. Die baas is dalk ook in die omtrek sodat die personeel nie regtig kan ontspan en hulself kan wees nie.

-       Kirstin Buick (@KirstiBuick)

Bronne:  mnn.com, dailymail.co.uk