Met einste hierdie tjek kan jy ’n klein begin maak om uit enige geldelike gemors te kom.

“’n Dertiende tjek of bonus is ’n wonderlike kans om van duur skuld ontslae te begin raak en êrens spaargeld te begin opbou vir noodgevalle, jou kinders se opvoeding of jou aftrede,” sê Aneesa Razack, hoof van strategiese groei by FNB Beleggingsprodukte.

As jy steeds dink jy wil eerder jou geld blaas om jou te bederf, dink jy nie gemoedsrus gaan ’n goeie bederf wees nie? Dan kan jy mos ophou rondrol in jou bed omdat jy jou kwel oor jou geldsake wat so chaoties is.

Jou skuld

Maak ’n lys van jou skuld volgens die rente wat jy op elk betaal. Betaal dan dié met die grootste rente eerste af, raai Aneesa aan.

Fynkam jou bankstate

Dit gaan vervelig wees, maar lees jou state van die afgelope jaar en maak lysies van waar en op wat jy jou geld uitgegee het. Kyk ook watter debietorders jy het, sê Aneesa. Jy het dalk al vergeet van sommige. Is almal nog nodig? Gaan jy selde nog gim toe, terwyl jy nog elke maand daarvoor betaal?

“As jy klaar finansieel huis skoongemaak het, is jy in die beste posisie om nou eindelik ’n begroting op te stel – en daarby te hou!”

Spaar

Aneesa sê dit help nie jy skraap die laaste sente wat jy dalk aan die einde van die maand oor het bymekaar om te spaar nie.

“’n Maklike oplossing is om jouself ‘eerste te betaal’. Laai ’n geskeduleerde oordrag op jou spaar- of beleggingsrekening sodat die geld outomaties oorgedra word na jou spaarrekening op die datum wat jy bepaal het. Dis ’n vinnige, outomatiese manier van spaar.”

elnaElna van der Merwe

Bron: Aneesa Razack, hoof van strategiese groei by FNB Beleggingsprodukte