Ek is seker baie van julle ken daardie naar gevoel op die krop van jou maag – jou foon lui en jy besef dis alweer ’n skuldinvorderaar. Een wat weer geld wil hê wat jy steeds nie het nie. Of daardie vasgekeerde gevoel wanneer jou foon lui en daar nie ’n nommer op die skermpie wys nie. Of die paniek wat jou beetpak elke keer dat jy by die venster uitkyk – en jy vir die balju wag om sy verskyning te maak. Die ergste ding wat ek nog gedoen het, was om oor die foon te maak of dit nie ek is wat praat nie. “H’m, mevrou Watsenaam is nie nou hier nie, sy is by haar siek ou moeder in die hospitaal. Ek sal haar sê jy het gebel.”

Dit lyk miskien soos ’n grap, maar die hartseer werklikheid is baie, baie mense weet waaroor dit gaan. Die dae is verby dat skuldinvorderaars lief en vriendelik is en jou mooi geld vra. Deesdae lyk dit of hulle almal op die aansoekvorm die kassie gemerk het met “gemene persoonlikheid, soos dié van ’n bulterriër”. Sowaar, ek het hul vermakerige, aggressiewe houding net so nodig soos ’n derde oog.

Wat erger is, is dat jy betaal vir elke keer dat hulle jou bel. Om ’n skuldinvorderaar te vermy vererger net jou skuld.

Ek sê nie jy moenie jou skuld betaal nie. Ons is ’n nasie wat diep in die skuld is. Ons skuld tans sowat R1, 43 triljoen rand . Ja, TRILJOEN is ’n regte woord en bedrag!

Wat doen jy dan wanneer jy net in ’n donker hoekie wil sit wanneer die skuldinvorderaars bel?

  • Eerstens, erken hulle. Antwoord die foon.
  • As jy nie op daardie oomblik met hulle kan praat nie, vra hulle om later weer te skakel.
  • Moet NOOIT ’n skuldinvorderaar belowe jy sal hom terugbel nie. Om in aanraking te kom met ’n spesifieke persoon by ’n oproepsentrum is soos om Nemo te probeer vind. Dit sal jou net geld, wat jy nie het nie, aan lugtyd kos. LAAT HULLE JOU TERUGBEL.
  • Wanneer jy eindelik met hulle praat, wees realisties.
  • Ek smeek jou: Moenie reëlings vir betalings maak wat jy nie kan nakom nie. Die eerste keer dat jy nie jou nuwe ooreenkoms kan nakom nie, sal hulle hul tande in jou nekslagaar slaan. Hulle sal die reg hê om dit te doen.
  • En as hulle aandring om ’n bedrag wat jy eenvoudig nie kan bekostig nie? Stel voor jy stuur vir hulle ’n afskrif van jou begroting, waarin jy jou inkomste en uitgawes aandui. Wys hulle hoeveel jy kan bekostig.
  • Hou altyd in gedagte die skuldinvorderaars is dikwels buitepartye wat die krediteure aangestel het om hul skuld in te vorder. Hierdie skuldinvorderaars kry dikwels aansporingsgeld, dus gaan hulle natuurlik probeer om soveel moontlik uit jou te kry.

Maar sê nou jy het genoeg hiervan gehad; dat jy nie meer die spanning kan hanteer om vir jou skuld gejag te word nie? Dis dan ’n goeie idee om ’n skuldberader te spreek. ’n Skuldberader kan namens jou met krediteure beding vir laer maandelikse paaiemente. En sodra ’n skuldberader jou onder skuldoorsig geplaas het, hoef jy nie meer met krediteure te onderhandel nie. Wanneer hulle bel, kan jy hulle net na jou skuldberader verwys.

Dit sal dalk ’n tydjie neem voor jou skuldinvorderaars uitvind jy is onder skuldoorsig. Jy gaan dalk steeds oproepe van hulle ontvang nadat jy ’n skuldberader gesien het.

’n Goeie, geregistreerde skuldberader sal jou krediteure van jou skuldoorsigstatus inlig deur aan hulle ’n vorm 17.1 te verskaf. Dit behoort vir hulle ’n duidelike aanduiding te wees dat jy ernstig is oor jou skuldrehabilitasie en -bestuur.

Vir nog inligting oor skuldberading en ’n lys van skuldberaders, besoek http://www.ncr.org.za/index.php?option=com_content&view=article&id=88

Volgende keer ondersoek ons die proses van skuldoorsig. Ons sal na die negatiewe en positiewe eienskappe daarvan kyk.

Intussen . . . HAAL NET ASEM! Jy is nie alleen nie. Daar is hulp beskikbaar, en dinge sal beter word.

Moeshfieka Botha

Meer oor Moeshfieka:

Moeshfieka Botha is die kommunikasiebestuurder vir ’n nasionale skuldberadersmaatskappy, Credit Matters. Vir nog inligting, besoek www.creditmatters.co.za of bel 086-111-6197.