Die feestyd is ’n vae herinnering, maar teen hierdie tyd van die jaar sien almal na die Paastyd uit.

Dit is ’n tyd wanneer jy jou werkroetine vaarwel kan toeroep en vryheid, pret, vriende, familie en feestelikheid kan geniet.

Terwyl jy elke oomblik van hierdie laaste warm dae wil gebruik vir ’n week- of naweekwegbreek saam met jou gesin, behoort die veiligheid van jou huis jou laaste rede tot kommer te wees.

Misdaadvlakke skiet gewoonlik die hoogte in gedurende vakansietye en Paasfees is geen uitsondering nie.

Behalwe om seker te maak dat jy alle voorkomende veiligheidsmaatreëls getref het, moet jy dit ook in gedagte hou dat onverwagte goed, soos ’n geiser wat bars, dalk by jou tuiskoms op jou kan wag.

Aangesien sommige mense dus hierdie tydjie weg van die huis af gaan deurbring, is hier vyf stappe om te sorg jou huis bly veilig.

1. Alarmstelsels

Dit is jou plig om jou alarmstelsel gereeld na te gaan om te verseker die rugsteunbatterye (wat ten minste ses tot agt uur behoort te hou) is reg en alles werk. As daar ’n inbraak is en die alarm was foutief of die batterye pap, is die kanse goed dat jou versekeringseis geweier sal word. Dieselfde geld indien die stelsel nie geaktiveer was terwyl daar niemand tuis was nie.

Lees ook: Begroot só wanneer jy noustrop trek

As daar tydens ’n kragonderbreking ’n diefstal is en die alarm gewerk het, behoort jy gedek te wees. Ons beveel egter aan dat jy jou polis ondersoek om vas te stel watter beperkings daar is, eerder as om die risiko te loop van ’n verrassing wanneer jy eis.

2. Oorstroming? Nee dankie . . .

Hoewel beurtkrag nie die afgelope tyd ’n probleem was nie, is vloede steeds as gevolg van die huidige droogtetoestand in Suid-Afrika in sommige voorstede ’n werklikheid. Dit het gewoonlik ’n kettingreaksie tot gevolg en kan uitloop op gebarste geysers, gebarste pype en oorstroming as krane oopgelaat word tydens ’n wateronderbreking.

Maak seker jou geyser het ’n druppan wat werk of, nog beter, laat dit elke paar jaar deur ’n opgeleide loodgieter nagaan. Op hierdie manier kan jy verseker alle komponente van die geyser, van die termostaat tot die kleppe, werk soos dit moet. En maak drie keer seker alle krane is styf toegedraai voor jy vertrek.

Hoewel jy alle voorsorgmaatreëls getref het, kan dinge nog altyd skeefloop, dus is dit belangrik om omvattende versekering te hê wat die gebou sowel as die inhoud verseker ten einde jou te beskerm teen hierdie soort onvoorsiene gebeurtenisse.

3. Skaf ’n paar rookverklikkers aan

Brande in huise is ’n werklikheid en om ná ’n genotvolle vakansie terug te keer na ’n afgebrande huis, is uiters traumaties. Dit is raadsaam om rookverklikkers oral in die huis aan te bring ten einde te verseker jou huis is beskerm in jou afwesigheid en ook vir die daaglikse veiligheid van jou gesin.

Maak ook seker alle toerusting is uitgeprop en die drade nie uitgerafel of stukkend nie. Verwarmers, stowe en foutiewe toerusting of bedrading is van die algemeenste oorsake van brande in ’n huis, dus moet jy seker maak alles wat afgeskakel of uitgeprop kan word, is wel afgeskakel. Maak dubbel seker van jou versekeringspolis om seker te wees dat jy gedek is en bewus van enige eisbeperkings wat kan bestaan.

4. Ligte

Installeer ’n tydreëlaar by ligskakelaars sodat sekere gedeeltes van die huis elke aand vir ’n paar uur volgens ’n roetine verlig kan wees. Dit wek die indruk dat die huis bewoon word en hou diewe weg. Tydreëlaars is geredelik by die meeste ysterwarewinkels beskikbaar en ’n elektrisiën kan dit maklik installeer. As jy nie ’n tydreëlaar het nie, oorweeg dit om ’n vriend of bure te vra om ’n paar ligte aan te skakel terwyl jy weg is.

Lees ook: Sit dit af, sit dit af . . . Só kan jy lag-lag krag én geld spaar!

5. Foutlose veiligheid

Die belangrikste is dat jy nie oorgerus moet wees ten opsigte van jou eie en ook jou gesin se veiligheid gedurende die dag nie. Wat jy miskien nie besef nie, is dat 25 persent van alle inbrake deur die dag plaasvind. Hou deure en/of hekke ten alle tye gesluit, veral as julle almal in die agterplaas is en min aandag skenk aan wat voor gebeur. Wees ook waaksaam as jy gaste in- en uitlaat by jou eiendom.

’n Paar ekstra kere se seker maak kan die verskil beteken tussen veiligheid en om jou gesin aan risiko’s bloot te stel. Hierdie maatreëls gee jou gemoedsrus en terselfdertyd kan dit help om die maandelikse versekeringspremie vir jou huishouding te verlaag.

Met al die besonderhede gedek, moet jy dan net ’n veilige en prettige Paas-wegbreektyd saam met jou geliefdes geniet.