Ek is ’n enkelma en het drie werke.

Ek is meestal doodmoeg, maar glimlag maar en beur voort. Soms word die behoefte om myself te bederf so oorweldigend dat ek eenvoudig daarvoor swig.

Verlede maand het my gunsteling-winkel byvoorbeeld op ’n koue, nat dag nuwe winterstewels ingekry. Hulle het daar gestaan en blink en na leer geruik – en hulle was my grootte!

Dis toe dat die “ek-verdien-dit”-gevoel oorneem. Ek moes die stewels hê, want dit sou my dag opvrolik. Ek verdien tog om myself te bederf. Ek sorg vir alles – van my kinders en my huis tot my uitgebreide familie en selfs die kat langsaan! Ek het my debietkaart uitgehaal en betaal. In my kop het ek goed rondgeskuif en eenvoudig vir hierdie kopie plek gemaak in my begroting.

Maar, helaas, 10 dae voor my volgende betaaldag, het ek te kort geskiet. Ek het daardie hol gevoel op die krop van my maag gekry en geweet my “ek-verdien-dit”-kopie was die oorsaak. Ek was effens verbaas, want ek het regtig gedink my begroting kon dit hanteer. Maar dit kom nou daarvan as jy in jou kop ’n begroting opstel! As daar nou een brokkie finansiële raad is wat ek almal kan gee, is dit dat jy jou begroting op skrif moet opstel.

As jy ’n begroting op papier uitstippel, sien jy presies wat jou inkomste en uitgawes is. Die werklike stand van sake is dus duidelik.

Doen jouself ’n guns en dra hierdie belangrike stuk papier in jou beursie saam. Wanneer iets onverwags opduik, kyk na jou begroting en besluit wat ’n luukse en wat ’n noodsaaklikheid is. Daar is dalk wel een maand ruimte vir ’n luukse, maar maak eerder seker jou ek-verdien-dit-bederf of ek-wil-dit-hê-kopie sal nie veroorsaak dat jy later die maand noustrop trek nie.

Want as dit eers een keer gebeur, maak dit die sluise oop vir skuldgevoelens wat dalk met Prozac verlig moet word.

Niks bemagtig jou meer as om te weet presies wat in jou geldsake aangaan nie. Doen moeite om te weet wie jou krediteure is. Weet wat jou uitstaande balanse is. Ken jou bepalings en rentekoerse. Want eers wanneer ons ten volle ingelig en bemagtig is, kan ons die regte finansiële besluite neem.

Die bostaande beteken natuurlik nie ek dink nie ek verdien ’n plesiervaart, nuwe skoene, egte leerhandsak, massering en gesigbehandeling nie. Werkende enkelma’s is immers tops!

Deur Moeshfieka Botha, bestuurder: spesiale projekte by Fin24